CrimeNews

Leeus in wildpark genadeloos afgemaai

Van die leeus se koppe en pote is afgesaag.

Die polisie in Rust De Winter buite Pienaarsrivier loods ’n soektog na ’n onbekende aantal verdagtes wat ses leeus van die Mystic Monkeys & Feathers-wildpark vergiftig en hulle koppe en pote gestroop het.

Die voorval het op Saterdag 30 Junie plaasgevind.

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê ’n werknemer het die oggend op bloed-merke by die reservaat afgekom wat na die leeuhokke gelei het.

Ses leeus is dood toe stropers hulle vir hul koppe en pote vergiftig het. Die voorval het by die Mystic Monkeys & Feathers-wildpark in die Rust de Winter-omgewing plaasgevind. Op die foto is Aiden, een van die wit leeus voor die voorval.

Daar het hy op die grusame toneel afgekom.

Net twee van die leeus se koppe en pote is nie afgesaag nie, het Ngoepe gesê.

Die polisie het die dag daarna ’n bloedbesmeerde broek en skoene op die reservaat gevind. Dit is nog onbekend of die broek en skoene aan die stropers behoort.

Volgens inligting van Christa Saayman, eienaar van die reservaat, is haar leeus beslis vir tradisionele medisyne gestroop.

’n Tweede slag het die reservaat amper getref toe die polisie Saayman die volgende dag in kennis gestel het dat ’n groep booswigte wéér gepoog het om die reservaat te betree.

Die leeuhokke is sedert die leeus vergiftig is onder voltydse toesig geplaas, maar die verdagtes kon nie aangekeer word nie, het sy gesê.

Personeel het intussen die leeuhokke waar gif gestrooi is, asook die karkasse van die dooie leeus, verbrand. Saayman het gesê hulle is ontsettend geskok en hartseer oor die voorval, maar verlig dat die res van hul diere ongeskonde is.

Ngoepe het gevra dat mense wat inligting oor die voorval het, vir kol. Alpheus Mokale by tel. 082 565 6524 bel of hul naaste polisiestasie. Die Rust de Winter-omgewing val onder die polisie se Bela-Bela-streek.

Die bestuur by die reservaat het teen druktyd gesê die reservaat is steeds oop vir die publiek en kan daagliks van 09:00 tot 16:00 besoek word.

Related Articles

Back to top button