CrimeNews

Een van drie verdagtes gevonnis

Monageng het glo vir die polisie gevlug en in ’n nabye huis onder ’n bed probeer wegkruip voordat hy in hegtenis geneem is.

Een van die vermeende sindikaatlede wat daarvan aangekla is dat hulle sedert April huishoudings en sakeondernemings in Bela-Bela besteel het, is die afgelope week gevonnis.

Steve Maluleka (20), Kobus Pholoba (27) en Shimane Monageng (19) is van diefstal en die besit van gesteelde eiendom aangekla. Volgens die polisie word dié driemanskap met ’n magdom voorvalle in en om die dorp verbind.

Die eerste twee ontken skuld, maar Monageng het skuld op vier klagte beken en is op Maandag 2 Julie tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis. Dit beteken dat hy tronkstraf vrygespring het.

Die hof het hom voorts onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Maluleka is op Woensdag 20 Junie in ’n huis in Van Stadenstraat aangekeer toe hy glo onder ’n sitkamerbank vir die polisie probeer wegkruip het nadat hulle agter hom aan was omdat hy glo by ’n ander huis in die omgewing probeer inbreek het en betrap is.

Pholoba is ná ’n ondersoek op Vrydag 22 Junie in Uitbreiding 9 en Monageng op Sondag 24 Junie in Denoza in die Bela-Bela-township aangekeer.

Monageng het glo ook vir die polisie gevlug en in ’n nabye huis onder ’n bed probeer wegkruip voordat hy in hegtenis geneem is.

Sers. Frans Sekgobela, ondersoekbeampte, het aan Die Pos gesê die verdagtes het vermoedelik op verskeie plekke gewoon terwyl hulle misdrywe in die omgewing gepleeg het.

Hulle het gedurig rondbeweeg, wat die opsporingswerk bemoeilik het en het veral in leë heropbou en ontwikkelingsprogramhuise (HOP-huise) in Uitbreiding 9 gewoon.

Maluleka word, volgens lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die dorp, met 21 sake van diefstal, huisbraak en roof verbind.

Pholoba en Monageng is elk met vier sake van huisbraak en diefstal verbind.

Maluleka het op Vrydag 22 Junie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

Sy saak is na Maandag 23 Julie uitgestel vir verdere ondersoek. Hy het intussen sy borgtogaansoek laat vaar.

Pholoba het op Maandag 2 Julie verskyn. Sy saak is uitgestel na Maandag 30 Julie vir verdere ondersoek. Hy het ook sy borgtog-aansoek laat vaar.

Maluleka en Pholoba is steeds in aanhouding.

* Die polisie waarsku inwoners om nie nalatig met hulle eiendom te wees nie en enige verdagte aktiwiteit onder die polisie of die plaaslike reaksiespan (RSRT-buurtwag) se aandag te bring.

Skakel die Bela-Bela-polisie by tel. (014) 736 9760/1. Vir RSRT kan mense vir Alex Poalses bel by tel. 083 252 3030 of vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988.

Related Articles

Back to top button