CrimeNews

Veearts steeds in hospitaal ná aanval en roof

Dr. Lesley van Niekerk (63), wat saam met haar man, dr. Hercu van Niekerk (75), op Vrydagoggend 15 Junie op hul plaas in die Boekenhout-omgewing buite Modimolle aangeval is, sterk goed aan.

Tiaan Bekker, die egpaar se buurman, het aan Die Pos gesê dat sy uit die in-tensiewe-sorg- eenheid na die hoësorgeenheid verskuif is. Sy haal self asem en is by haar bewussyn.

Lesley is tydens die aanval twee keer in die maag geskiet. Sy is op die plaas deur APA-ambulansdienste gestabiliseer en daarna per helikopter na ’n Pretoriase hospitaal vervoer waar sy in ’n kritieke toestand opgeneem is.

Die egpaar, albei afgetrede veeartse, en ’n werknemer, Abram Khethisa, was net ná 08:00 besig om voer naby hul huis af te laai toe hulle deur vier mans oorval is, het Die Pos vroeër berig. Verskeie skote is op die egpaar en Khethisa afgevuur.

Lesley het glo in die bakkie gesit en van die skote het haar getref nadat dit deur die bakwerk van die voertuig afgevuur is. Hercu is rakelings gemis en Khethisa het die bosse in gevlug.

Die aanvallers het die egpaar agterop die voertuig gelaai en na die huis geneem waar hulle kontant en wapens gebuit het. ’n Grootskeepse soektog deur die polisie en die gemeenskap het egter niks opgelewer nie. Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, is daar nog geen vordering met die ondersoek nie.

Related Articles

Back to top button