CrimeNews

Rowers buit duisende ná hulle deur sakeperseel se toiletvenster klim

Volgens ’n veiligheidswag by die gebou het die inbrekers deur die toiletvenster toegang tot die gebou verkry.

Hollywood Bets, ’n dobbelonderneming in Mookgophong, is Vrydagnag 22 Junie van ’n groot bedrag kontant beroof.

Dié weddenskaponderneming is langs Spar, wat ’n paar maande tevore ook deur die nag deur inbrekers geteiken is.

Volgens ’n veiligheidswag by die gebou het die inbrekers deur die toiletvenster toegang tot die gebou verkry. Die inbrekers het die kringtelevisiekamera ontkoppel en die alarm afgeskakel.

Die veiligheidswag en personeel het Saterdagoggend ongeveer 06:00 met oopmaaktyd onraad gemerk en by nadere ondersoek gevind dat die kluis met ’n hoekslyper oopgedwing is. Die boewe het R85 000 rand kontant uit die kluis gebuit.

Daar is tekens dat die rowers moontlik ook by Spar wou inbreek en in die “hok” waar die winkel se kragopwekker is, geskuil het.

Wedders het Saterdag oral rondgestaan en gewag dat die onderneming sy deure moet open. Die polisie het aan Die Pos gesê daar is moontlik beeldmateriaal van die inbrekers in die gang by die toilet, maar hul forensiese span is nog besig met die ondersoek.

Tot dusver is niemand in hegtenis geneem nie. AO George Ledwaba van die polisie in die dorp het inwoners versoek om oplettend te wees en enigeen wat verdag optree, dadelik by die polisie aan te meld.

  • Daar is in Januarie 2014 ook by dié dobbelplek ingebreek en plofstof is gebruik om die kluis oop te kry.

Related Articles

Back to top button