CrimeNews

Polisie ondersoek twee se ‘betrokkenheid’ by brandstigting

Nóg ’n verdagte is in hegtenis geneem ná die vernietigende brand op Maandag 4 Junie by die Kingfisher Nest-gastehuis in Bela-Bela.

Borgtog is op Donderdag 14 Junie in die Bela-Bela-landdroshof aan die vermeende brandstigter Hans Phale toegestaan.

Phale, ’n inwoner van die Koppewaai-nedersetting langs die Alma-pad, is op Woensdag 6 Junie in hegtenis geneem nadat Salome Mahladisha, ook van Koppewaai, se sinkhuis op Sondag 3 Junie afgebrand het.

Die hof het borgtog van R1 000 aan Phale toegestaan, waarna hy vrygelaat is. Die saak is na Donderdag 5 Julie uitgestel vir verdere ondersoek.

Lede van die Bela-Bela-munisipaliteit het onderneem om Mahladisha te help deur nuwe boumateriaal en kos te voorsien omdat sy al haar besittings in die brand verloor het.

Nóg ’n verdagte is in hegtenis geneem ná die vernietigende brand op Maandag 4 Junie by die Kingfisher Nest-gastehuis (voorheen die Strawberry Kaya) se grasdakrestaurant op die Thabazimbi-pad net buite die dorp. Hy het ook op Donderdag 14 Junie in die hof verskyn.

Frank Mojapelo, ’n voormalige werknemer by die gastehuis, is op Maandag 4 Junie in Roedtan aangekeer met rekenaartoerusting wat glo aan die gastehuis behoort het, het die polisie vroeër gesê.

Volgens die polisie word hy met die brand by die gastehuis verbind. Hy is egter nog nie formeel op dié klag aangekla nie, maar wel op ’n klag van diefstal.

Die saak is na Dinsdag 26 Junie uitgestel sodat hy ’n borgtogaansoek kan indien. Hy is steeds in aanhouding.

Die brand by die restaurant het kort voor 02:00 begin en is ongeveer 06:00 onder beheer gebring.

Die gastehuis, met die restaurant, was ten tyde van die brand in die mark, het die eienaar vroeër aan Die Pos gesê.

Die brandweertrok van die Bela-Bela- munisipaliteit is tydens die reddingspoging beskadig toe dit in ’n sementgat vasgeval het.

Die trok is intussen weer in gebruik, het die munisipaliteit vroeër gesê.

* Die oorsaak van die brand op Maandag 7 Mei, wat vier winkels by die Bela-Bela Waterfront in puin gelaat het, is steeds ’n raaisel.

Die geboue waaruit ’n troeteldierwinkel voorheen bestuur is, die tatoeëersalon, Broken Art Tattoo studio, ’n stoorplek wat Jenny Momberg, inwoner, gebruik het en die veiligheidsmaatskappy Crosscut Security het afgebrand. Die brand het kort voor 22:00 ontstaan.

Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof by die Bela-Bela-polisie, het gesê daar word vermoed dat haweloses die brand gestig het, maar tot dusver is niemand in hegtenis geneem nie.

Die ondersoek na die oorsaak van dié brand duur steeds voort, het Phetla gesê.

Related Articles

Back to top button