CrimeNews

Jong man voor sy ouerhuis in Mookgophong aangerand

“Ná die eerste hou het hy waarskynlik reeds harsingskudding opgedoen.”

’n Oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom, Hannes Kruger (33), is op Saterdagoggend 16 Junie omstreeks 02:00 voor sy ouerhuis in Mookgophong aangerand.

Kruger is ’n rekenaar elektriese ingenieur en woon in Pretoria. Hy het vir die naweek by sy ouers in die dorp gekuier.

Volgens Kruger se ma, Petro, het hy teruggestap huis toe van ’n kuierplek in die dorp toe hy vermoedelik voor sy ouerhuis aangerand is. Hy was saam met sy broer en vriende daar, maar is alleen te voet huis toe.

Daar word vermoed dat hy meer as een keer van agter met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan is.

“Ná die eerste hou het hy waarskynlik reeds harsingskudding opgedoen,” het sy gesê.

Volgens Petro lyk dit asof haar seun probeer het om in die huis te kom, maar dat hy weens die harsingskudding nie die kode van die deur kon onthou nie. Hy het tot by sy motor, wat in die oprit gestaan het, gestrompel en daar gewag totdat hulp opgedaag het.

Sy broer en een vriend het met hul aankoms by die huis die baie bloed gesien en na hom begin soek, waarna hulle hom in die voertuig gekry het.

Sy pa en broer, Wynand Kruger snr. en Wynand Kruger jr., is albei dokters. Dié dokters en ’n vriend, Frederik Swanepoel, het hom by die huis gestabiliseer en van die wonde toegewerk.

Hy het drie ernstige kopwonde opgedoen. Volgens sy ma het dit twee uur geduur om hom te behandel. Petro het gesê sy het nog nooit so baie bloed gesien nie.

Nadat hy gestabiliseer is, is hy per ambulans na die Wilgers-hospitaal in Pretoria geneem, het sy gesê.

Volgens haar is haar seun nie seker wat werklik gebeur het nie. Sy ouers is baie geskok en het aan Die Pos gesê hulle wil jongmense waarsku om nie laat in die aand rond te loop nie.

Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Mookgophong, het ook aan Die Pos gesê mense moet versigtig wees en oral op die uitkyk wees vir rondlopers in die strate.

Dit is nog nie duidelik of Hannes moontlik agtervolg is toe hy by die kuierplek weg is nie. Die saak is by die polisie aangemeld, maar inwoners wat enige inligting oor die voorval het, kan vir Van Loggerenberg bel by tel. 081 562 8702.

Hannes is op Woensdag 19 Junie ontslaan en sterk by sy ouers aan.

Related Articles

Back to top button