CrimeNews

Bela-Bela-inwoners kan rustiger slaap met dié drie agter tralies

’n Verdagte, Steve Maluleka, het in die Bela-Bela-landdroshof op aanklagte van inbraak en diefstal verskyn nádat die polisie al ’n geruime tyd na hom gesoek het.

Bela-Bela-inwoners kan nou rustiger slaap nadat die polisie die afgelope week ’n groep vermeende inbrekers in hegtenis geneem het wat met talle inbrake by sakeondernemings en huise in die dorp en die Bela-Bela-township verbind word.

Goeie samewerking tussen die Bela-Bela-polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Galven-sekuriteit het op Woensdagoggend 20 Junie tot die inhegtenisname van Steve Maluleka (20) gelei toe hy ná ’n deeglike soektog in ’n huis in Van Stadenstraat, naby die Warmbad-rolbalbaan aangekeer is.

Inwoners was nog die oggend besig om hul ontbyt te eet toe skote afgevuur is nadat Maluleka glo probeer vlug het vir die polisie. In sy vlugtog het hy toegang tot die huis in Van Stadenstraat gekry deur ’n venster oop te breek waar hy glo onder ’n sitkamerbank vir die polisie probeer wegkruip het. Die inwoners van die huis was nie op daardie stadium tuis nie.

Die polisie soek al geruime tyd na Maluleka in verband met ’n string inbrake in die dorp se sentrale sakesektor, asook in die woongebied.

Twee ander verdagtes, Kobus Poloba (27) en Shimane Monare (19), is onderskeidelik op Vrydag 22 Junie en op Sondag 24 Junie in die township in hegtenis geneem. Volgens sers. Frans Sekgobela, ondersoekbeampte, het hulle glo saam met Maluleka misdade in die omgewing gepleeg.

Poloba is in Uitbreiding 9 en Monare in Denoza aangekeer.

Sekgobela het gesê Monare het vir die polisie gevlug. Hy het in ’n nabygeleë huis ingegaan en onder ’n bed vir die polisie probeer wegkruip.

“Hulle al drie het nooit lank op dieselfde plek gewoon nie en het gedurig rondbeweeg, wat die opsporingswerk bemoeilik het. Hulle het veral in die leë heropbou- en ontwikkelingsprogramhuise (HOP) in Uitbreiding 9 gewoon,” het Sekgobela gesê.

Maluleka het op Vrydag 22 Junie in die Bela-Bela-landdroshof op aanklagte van inbraak en diefstal verskyn.

Poloba en Monare het op Maandag 25 Junie saam in die hof op dieselfde aanklagte verskyn.

Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof by die Bela-Bela-polisie, het by navraag gesê Maluleka staar tot dusver 10 aanklagte van inbraak en diefstal in die gesig.

Sekgobela het gesê dat Poloba tans met vyf misdade en Monare met twee verbind word.

Maluleka was sedert Mei tot met sy inhegtenisname in die dorp doenig, lui die klagstaat. Hy het glo veral handgereedskap, drank, kos en elektroniese toestelle soos televisies gesteel.

Volgens Phetla kan hy moontlik met ander sake verbind word. Daar word ook dwelmverwante sake teen hom ondersoek. Sekgobela het verder gesê Poloba en Monare kan met ander sake verbind word.
Maluleka se hofsaak is uitgestel na Maandag 23 Julie vir verdere ondersoek.

Poloba en Monare se hofsaak is uitgestel na Maandag 2 Julie wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.

Maluleka het sy aansoek om borgtog laat vaar.

Al drie verdagtes is in aanhouding.

*  Die Bela-Bela-polisie en lede van ander polisiestasies in die omgewing het op Vrydag 22 Junie ’n gesamentlik polisie-klopjag uitgevoer.

Die polisie het talle mense in hegtenis geneem weens ’n verskeidenheid misdade, het Phetla gesê.

Volgens hom het die polisie 13 onwettige immigrante, 22 mense weens dwelms, ses weens dronkbestuur en drie weens prostitusie aangekeer. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.
Inbrake by huise en sake-ondernemings is sedert April ’n probleem in dié omgewing.

Die polisie waarsku inwoners om nie nalatig met hul eiendom te wees nie en enige verdagte aktiwiteite by die polisie of die plaaslike reaksiespan (RSRT-buurtwag) aan te meld.

Die Bela-Bela-polisie kan by tel. (014) 736 9760/1 geskakel word. Vir RSRT kan mense vir Alex Poalses bel by tel. 083 252 3030 of vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988.

Related Articles

Back to top button