CrimeNews

Afgetrede veearts steeds kritiek ná plaasaanval buite Modimolle

“Die mans se oë was vol soveel haat.”

Dr. Lesley (63) van Niekerk, ’n afgetrede veearts, word in die wagtende helikopter gelaai nadat plaasaanvallers haar in die maag geskiet het. Lesley is in ’n kritieke toestand in ’n Pretoriase hospitaal. Foto: Herman Steyn

Dr. Lesley van Niekerk (63) is in ’n kritieke toestand in ’n Pretoriase hospitaal nadat sy twee keer geskiet is tydens ’n aanval op ’n plaas in die Boekenhout-omgewing buite Modimolle.

 

Lees ook:
Plaasaanval: Bejaarde vrou gewond
Soektog duur voort ná plaasaanval
Plaasaanval: Vrou kritiek maar stabiel

 

Van Niekerk en haar man, dr. Hercu van Niekerk (75), is albei afgetrede veeartse.

Die egpaar en ’n werknemer, Abram Khethisa, was Vrydagoggend 15 Junie net ná 08:00 naby die huis besig om voer vir hul diere af te laai, toe hulle deur vier mans oorval is. Die mans het glo klapmusse en blou oorpakke gedra en was met jaggewere gewapen. Verskeie skote is op die egpaar en Khethisa afgevuur en van die skote het Lesley getref waar sy in die bakkie gesit het. Khethisa het die bosse in gevlug.

Die egpaar is daarna agterop die bakkie gelaai en na die huis geneem waar die aanvallers kontant en wapens gebuit het voordat hulle met die egpaar se goudkleurige Toyota-bakkie op die vlug geslaan het, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, gesê.

Bure was spoedig op die toneel nadat die Van Niekerks alarm gemaak het.

Met Die Pos se aankoms op die toneel was die rustige plaasgeluide in skrille kontras met die drama wat enkele ure vantevore afgespeel het. Parate boere van die omgewing het die toneel bewaar vir die polisie se ondersoek en hekke en toegangspaaie versper.

Die Van Niekerks is deur hul bure, Jeanne en Tiaan Bekker, ondersteun.

 


TOENAME IN AANVALLE OP PLASE KOMMERWEKKEND

’n Vlaag plaasaanvalle het die afgelope ruk voorgekom.
Ses plaasaanvalle is vanaf Vrydag 15 Junie tot Sondag 17 Junie landwyd aangemeld.
Die aanvalle was in Limpopo (3), Mpumalanga (1), die Wes-Kaap (1) en die Vrystaat (1).

•  VRYDAG 1 JUNIE:  Manie van der Merwe, Vaalwater, gewapende roof op plaas.
•  SATERDAG 2 JUNIE:  Christo Venter, Vaalwater, aanvallers vlug.
•  VRYDAG 15 JUNIE:  Van Niekerk-egpaar, Modimolle, vrou kritiek.


 

Een van die egpaar se waghonde het dood op die toneel gelê. Die dier is vermoedelik geskiet toe die aanvallers met die Van Niekerks se bakkie op die werf stilgehou het.

APA-ambulansdienste het Lesley op die toneel gestabiliseer voordat sy per helikopter na ’n hospitaal in Pretoria vervoer is.

Een van die Van Niekerks se getroue waghonde is vermoedelik deur die aanvallers doodgeskiet toe hulle met die egpaar se voertuig op die werf stilgehou het. Foto: Herman Steyn

“Die mans se oë was vol soveel haat,” het ’n bewerige Hercu gesê terwyl APA-ambulansdienste sy vrou in die wagtende helikopter gelaai het.

Volgens hul dogter, Leatitia du Bruin, het Lesley skade aan haar niere, diafragma en milt.

’n Reusesoektog is ná die aanval geloods en inwoners, lede van veiligheidsgroepe van sover as Mokopane, die spoorsnyers van Heritage Protection Group (HPG) en die polisie het die gebied tussen Crecy, Tuinplaas en Mookgophong gefynkam. Volgens Barend Pienaar, wat betrokke is by ’n plaaslike veiligheidsorganisasie, was daar meer as 90 voertuie op die toneel, sowat 200 mense, ’n polisiehelikopter van Polokwane, drie privaat helikopters en selfs ’n hangvlieër.

Die aanvallers, wat die bakkie langs die pad gelos en die bosse ingevlug het nadat hulle deur van die boere gekonfronteer is, het ontsnap ten spyte daarvan dat hulle op ’n stadium vanuit een van die helikopters gesien is.

“Die gebied wat ons moes deursoek was baie ruig en ’n mens kon net ’n paar meter voor jou sien. Die aanvallers was gewapen en diegene wat spoorgesny het, moes versigtig beweeg,” het Pienaar gesê.

Hy het inwoners op plase gewaarsku dat aanvallers deesdae soggens toeslaan wanneer mense uit hul huise kom en gaan werk. “Ons sien ook gereeld dat hulle op Vrydae aanval,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button