CrimeNews

Dié kieterkat van Bela-Bela het sowaar nege lewens

“Katte kan vir baie inwoners ’n probleem word, maar ek kan nie glo dat iemand so iets aan ’n dier kan doen nie.”

Inwoners van Bela-Bela was die afgelope week diep geskok nadat iemand ’n kat in die dorp met ’n pyl geskiet en nog een vergiftig het.

Yvette Nel, ’n inwoner van Katjiepieringlaan, het aan Die Pos gesê sy het op Woensdag 13 Junie ’n oproep van haar buurman gekry dat daar ’n mannetjieskat met ’n pyl deur sy bors in haar tuin lê. Die pyl het die kat van voor deurboor en sy ruggraat net-net gemis.

“Dit was baie traumaties om die dier se lyding te aanskou,” het ’n geskokte Nel gesê.

“Katte kan vir baie inwoners ’n probleem word, maar ek kan nie glo dat iemand so iets aan ’n dier kan doen nie.”

Sy het vir dr. Marius du Toit, veearts op die dorp, gebel waarna hy die kat kom haal en die pyl by die Warmbad-dierekliniek verwyder het. Die kat het wonderbaarlik oorleef.

Jackie Botha, wat in Huilboslaan net ’n entjie van Nel se huis woon, het die kat as hare herken nadat ’n foto van die beseerde dier op Die Pos se Facebook-blad geplaas is. Sy het intussen die kat, met die naam Tiger, by die dierekliniek gaan haal.

Volgens haar was die kat twee dae lank weg voordat sy uitgevind het wat met hom gebeur het.

“Dit is die eerste keer dat so iets met ons gesin gebeur. Dit is regtig skokkend dat iemand so iets gedoen het,” het sy gesê. Sy het gesê sy het Tiger al drie jaar en hy is ’n goedversorgde huiskat.

Sy het gesê Tiger verduur nog pyn maar sy probeer hom so gemaklik moontlik hou totdat hy ten volle herstel het.

Kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder van die Bela-Bela-polisie, het gesê die voorval is wreed teenoor die dier en as die skuldige vasgetrek word, kan hy of sy ’n boete of tronkstraf opgelê word.

Sy het gesê enigiemand wat sien hoe diere mishandel word, kan die polisie met inligting nader.

Nel én Botha het aan Die Pos gesê hulle gaan nie die voorval daar laat nie. Nel was reeds met die polisie in verbinding daaroor.

Die polisie kon teen druktyd nie bevestig of ’n saak al geopen is nie.


Hettie van Wyk, ’n inwoner van Apiesdoringlaan, een straat onder Katjiepieringlaan, se kat het in die vroeë oggendure van Donderdag 14 Junie ook deurgeloop.

Sy het aan Die Pos vertel dat sy omstreeks 01:00 ’n geskarrel in haar kamer gehoor het. Sy het opgestaan en haar kat op die vloer aangetref.

“Hy het vir ongeveer tien minute rondgespartel en toe net stilgelê met skuim wat uit sy mond gekom het. Dit was verskriklik. Hy was soos my kind,” het sy gesê.

Sy vermoed dat iemand die kat vergiftig het.

“’n Mens wat so iets doen, het nie ’n hart nie. Hy was die mooiste kat met die mooiste blou oë.”

Sy het gesê een van haar honde het ongeveer drie weke gelede dieselfde oorgekom.

Sy beoog om verdere stappe te doen.

Related Articles

Back to top button