CrimeNews

Meer lede nodig om dorp te beveilig

’n Vrou is ook in Mei langs die pad verkrag met haar kind in haar arms nadat die minibus waarin sy en ander passasiers gery het deur die rowers geteiken is.

Die Bela-Bela-polisie is bekommerd oor al hoe meer rooftogte wat in die omgewing van dié eens “rustige plattelandse dorp” aangemeld word.

Misdaad in en om die dorp het weer onder die loep gekom tydens die maandelikse veiligheidsvergadering by die Bela-Bela-polisiestasie op Donderdag 14 Junie.

Lede van die vergadering was teleurgesteld omdat Jeremiah Ngobeni, burgemeester, nie die vergadering bygewoon het nie. Hy het tydens die vorige vergadering onderneem om op dié vergadering die dorp se risikobestuursplan bekend te maak en ook terugvoer te gee oor klagtes rakende die smouse in die dorp.

Kol. Lindie Marx, stasiebevelvoerder, het gesê geweld tydens rooftogte op die N1-snelweg tussen die Carousel- en Kranskop-tolhekke neem toe.

Meer as ses rooftogte het die laaste tyd op dié stuk van die snelweg plaasgevind. Vyf rooftogte het tussen 01:00 en 04:30 op Vrydag 8 Junie plaasgevind. Die slagoffers se motorbande het tydens elke voorval op die snelweg onverklaarbaar gebars en hulle moes stilhou, waarna rowers toegeslaan het, het Marx gesê.

’n Vrou is ook in Mei langs die pad verkrag met haar kind in haar arms nadat die minibus waarin sy en ander passasiers gery het deur die rowers geteiken is.

“My raad aan motorryers wat daardie stuk pad ry is om onder geen omstandighede stil te hou nie,” het Marx gesê.

Die vergadering het voorts gehoor dat Bela-Bela veral onder inbrekers deurloop.

Volgens kapt. Emsie Roux is die probleemareas sakeondernemings in die dorp se sentrale sakesektor.

In die woongebied is verskeie inbrake in Ludorfstraat en Kretzchmarlaan aangemeld. Dit sluit inbrake wat helderoordag plaasgevind het in.

Volgens haar is daar ’n neiging dat verdagtes kos en elektroniese toestelle steel. Armoede is ’n faktor, maar verdagtes verkoop ook soms die gesteelde items om dwelms te bekom, het sy gesê.

Die proses om die motorwagte in die dorp by die polisie te registreer en ’n spesifieke omgewing aan elkeen toe te ken, is nog nie afgehandel nie, het Marx gesê. Dié stap word geneem om diefstal vanuit voertuie te stuit. Dié soort misdaad vind veral plaas in Potgieter-, Sutter- en Corckeryweg, asook by die Bosveld Mall.

Inwoners word volgens die polisie ook toenemend slagoffers van kuberkrakers wat onwettig toegang tot hul bankrekeninge verkry. Roux het gesê mense moet onder geen omstandighede hul persoonlike inligting aan iemand anders verskaf nie — veral as hulle SMS’e ontvang wat vra om persoonlike inligting te deel.

’n Beroep is op inwoners gedoen om by die nuwe buurtwag — die plaaslike veiligheidsreaksie (RSRT) — aan te sluit.

Deon Beukes, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum sektor 1 (GPF) en lid van RSRT, het gesê die RSRT-buurtwag is ’n inisiatief van die GPF en AfriForum. Hulle het tans vyf lede wat patrollie in die dorp ry, maar meer “oë” is nodig om die dorp te beveilig.

Inwoners wat wil bydra tot die dorp se veiligheid kan vir Alex Poalses bel by tel. 083 252 3030 of vir Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988.

Related Articles

Back to top button