CrimeNews

Twee verdagtes vas ná brande buite Bela-Bela

Twee verdagtes het die afgelope week vlugtig in afsonderlike sake van brandstigting en diefstal in die hof verskyn ná vernietigende brande verlede week waarin ’n bekende restaurant buite Bela-Bela, asook ’n sinkhuis in die Koppewaai-plakkerkamp op die Alma-pad, verwoes is.

Kingfisher Nest, voorheen bekend as Strawberry Kaya, se grasdakrestaurant het in die vroeë oggendure van Maandag 4 Junie afgebrand, maar gelukkig het die gastehuis geen skade gely nie. Die eiendom is tans in die mark, het die eienaar vroeër aan Die Pos gesê.

Die munisipale brandweertrok wat uitgestuur is om die brand te bestry het in ’n sementgat vasgeval en is beskadig.

Frank Mojapelo, ’n voormalige werknemer van Kingfisher Nest, is op Maandag 4 Junie in Roedtan in hegtenis geneem. ’n Saak van brandstigting en diefstal word teen hom ondersoek, het die polisie aan Die Pos gesê.

Volgens lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, is hy ook met rekenaartoerusting betrap wat glo aan die gastehuis behoort het.

Hans Phale is op Woensdag 6 Junie in hegtenis geneem weens die brand in Koppewaai, nadat Salome Mahladisha, ’n Koppewaai-inwoner, se sinkhuis glo op Sondagaand 3 Junie aan die brand gesteek is. Sy het al haar besittings in die brand verloor.

Phale is in Koppewaai in hegtenis geneem en is daarvan aangekla dat hy die brand gestig het, het Phetla gesê.

Die Bela-Bela-munisipaliteit het haar die oggend ná die brand besoek en onderneem om hulp aan haar te verleen. Sy wou nie met Die Pos praat oor wat gebeur het nie.

Phale en Mojapelo het op afsonderlike sake in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Albei mans se hofsake is uitgestel na Donderdag 14 Junie vir Mojapelo om op die klagte te pleit en vir Phale se borgtogaansoek.

* Bela-Bela is die afgelope ruk geteister deur onverklaarbare brande wat verskeie sakeondernemings en woonhuise in die dorp in puin gelê het. Plekke wat al deurgeloop het, is ’n groot gedeelte van die Bela-Bela Waterfront, die Bela-Bela SuperSpar, ’n sakesentrum op die hoek van Kretzchmar- en Lunaweg, die Feathers-restaurant buite die dorp en die Bela-Bela-polisiebarakke.

* Die ondersoek rakende die brand wat op Maandag 7 Mei by die Waterfront plaasgevind het, duur steeds voort.

Die geboue waaruit ’n troeteldierwinkel voorheen bestuur is, die tatoeërsalon Broken Art Tattoo studio, ’n stoorplek wat Jenny Momberg gebruik het en die veiligheidsmaatskappy Crosscut Security het afgebrand.

Daar is aanvanklik vermoed dat haweloses moontlik die brand gestig het, maar die polisie het tot dusver niemand in hegtenis geneem nie.

Related Articles

Back to top button