CrimeNews

Rooftogte op N1-snelweg neem toe

Die Bela-Bela-polisie waarsku motorryers om uiters versigtig te wees wanneer hulle op die sowat 2 km tussen die Mantsole-weegbrug en die Mackenzie-oorbrug naby Radium op die N1-snelweg reis.

Die Pos het reeds verskeie kere berig oor rooftogte op dié stuk pad. Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, het aan Die Pos bevestig dat die polisie klagtes ondersoek van voorvalle waar voertuie se bande onverklaarbaar bars en passasiers dan beroof word sodra hulle stilhou. Die vermoede bestaan dat booswigte skerp voorwerpe in die pad plaas.

Volgens Phetla is nie minder nie as vyf soortgelyke voorvalle op Vrydag 8 Junie aangemeld. Al die voertuie betrokke was van Gauteng na Limpopo onderweg.

Die Pos het ook vroeër berig dat ’n vrou verkrag is terwyl sy haar baba in haar arms vasgehou het toe die minibus waarin sy gereis het, op dieselfde manier op Saterdag 19 Mei deur die rowers geteiken is.

Die nuutste voorvalle het verlede Vrydag tussen 01:00 en 04:30 plaasgevind toe vyf voertuie se bande onverklaarbaar gebars en die bestuurders stilgehou het, het Phetla gesê.
Die voertuie het glo almal in die linkerbaan gery toe die bande gebars het.

Vyf mense is aangehou en van hul geld, selfone en ander elektroniese toestelle beroof.

Handgereedskap is ook gesteel.

Hoewel die meeste van die slagoffers relatief lig daarvan afgekom het, het een van die rowers ’n slagoffer met ’n skerp voorwerp in die rug gesteek, maar hy is nie ernstig gewond nie, het Phetla gesê.

Phetla het gesê die slagoffers vertel almal dieselfde weergawe dat “skerp voorwerpe” in die pad veroorsaak het dat hul voertuie se bande gebars het. Die polisie kon egter nooit in enige van die voorvalle teen dagbreek tekens van sulke voorwerpe vind nie.

“Die verdagtes het voorheen mense geteiken wat langs die pad stilhou om ’n draai te loop, maar die modus operandi het klaarblyklik verander. Mense word gewaarsku om ekstra versigtig in hierdie deel te ry en om enige verdagte aktiwiteite by die Bela-Bela- of Pienaarsrivier-polisie aan te meld.”

Die provinsiale polisie is bewus van die vlaag voorvalle en daar is planne gemaak om sigbare polisiëring in dié omgewing op te skerp, het Phetla gesê.

Related Articles

Back to top button