CrimeNews

Plase sonder krag ná kabeldiefstal

Verskeie plase buite Mookgophong was vir dae sonder elektrisiteit nadat kragkabels op Donderdag 7 Junie op die Boekenhout- en Visgatlyn gesteel is.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het inwoners op ’n gemeenskapsgroep op Facebook ingelig dat die lyn moontlik ’n paar dae sal neem om te herstel aangesien die tegniese afdeling van die munisipaliteit nie die kabels in voorraad gehad het nie. Sy het ook gesê die verskaffers is nie betaal vir materiaal wat voorheen gebruik is nie en dus kon aankope nie gedoen word nie.

Ongeveer 100 m van die kabel is deur een van die munisipale elektrisiëns naby die plek waar dit in stukke gekap is, gevind, maar dit was só erg beskadig dat dit nie weer gebruik kon word nie. Van Staden het verder gesê die kabel is baie swaar en dit sou moeilik wees om dit op te laai.

Dit was ’n groot frustrasie vir inwoners wat van dié kraglyn gebruik maak. Marinda Smit, een van die plaaseienaars in die omgewing, het aan Die Pos vertel dat haar man, Inus en seun JM, vir ’n paar dae ’n denimbroek aan die heining van ’n plaas naby die N1 gesien hang het. Dit was op die plek waar spore gevind is en waar die kabels gesteel is, het sy gesê. Nadat die gekapte kabels gevind is, het die broek spoorloos verdwyn. Smit glo die broek is waarskynlik as ’n merker gebruik.

Volgens Smit het die krag ná een fase geval en het hulle onraad vermoed. By nadere ondersoek is gevind dat die kabels op meer as een plek afgekap is. Die kabels is op hulle plaas naby die brug na die N1 gesteel.

Gebruikers van die lyn het ingespring en begin help om die kraglyn te herstel. Die krag na die plase was teen Saterdagaand 9 Junie om 20:00 weer herstel en alles was terug na normaal.
Volgens Van Staden is die Boekenhoutlyn nou weer in werking. Die kabel is toegegooi en vasgesement.

Verbruikers was verlig om weer elektrisiteit te hê.

Related Articles

Back to top button