CrimeNews

Dankbaar vir gemeenskap se omgee en meelewing, vertel Vaalwater-man ná aanval

"Hulle het ons al drie in die hoofslaapkamer toegesluit. Ons al drie se arms en bene is vasgebind."

Vaalwater was op Vrydag 1 Junie in rep en roer nadat Manie van der Merwe om 09:26 ’n noodroep tydens ’n gewapende rooftog van sy plaas uitgestuur het.

Van der Merwe en sy vrou, Kittie, boer al langer as 14 jaar buite Vaalwater. Die afgelope vyf jaar boer hule met aarbeie. Van der Merwe het aan Die Pos gesê hy was die oggend by die kraal besig om beeste te spuit toe die aanval plaasgevind het.

Twee van die vier gewapende rowers het hom aan albei arms vasgegryp terwyl hulle handwapens op hom gerig en geskree het “Where is the wife? Where is the wife?” het hy gesê.

“Die twee werkers langs my het só geskrik dat hulle die hasepad gevat en weggekom het. Die werkers het na die buurplaas Weltevreden, so 2 km daarvandaan, gehardloop waar hulle die voorman, Marius Kruger, om hulp gevra het.”

Van der Merwe het vertel dat hulle sy hande agter sy rug vasgemaak en hom die 100 m huis toe laat stap het. By die huis het hulle eerste vir Flora Mabuela, die Van der Merwe-egpaar se jarelange huiswerker wat vir Kittie ná ’n motorongeluk vyf jaar gelede help versorg het, aangetref.

“Flora het die aanvallers as Zimbabwiërs uitgeken,” het Kittie vertel. Mabuela het aan Kittie gesê dat sy die taal herken het, maar dat sy dit nie verstaan nie. Mabuela het ook weggehardloop toe Manie-hulle ingestap kom. Die rowers het haar egter ingehaal, gevang en aangehou skree: “Where’s the wife!” Die aanvallers het Manie se horlosie met soveel geweld van sy arm afgeruk dat hy vier steke moes kry, het Kittie gesê.

Kittie, wat ná die motorongeluk moeilik loop, was besig met boekhouding. “Hulle het al ons juwele en my trouring gevat. Manie het gesê hulle moet vat wat hulle wil. Hy het so min as moontlik aggressie probeer uitlok,” het Kittie gesê.

Manie het gesê hy was drie dae later steeds lam van die skok oor die gebeure.

Die rowers het kontant, juwele en wapens bymekaargemaak. “Hulle het ons al drie in die hoofslaapkamer toegesluit. Ons al drie se arms en bene is vasgebind. Die rowers het daarna met Manie se bakkie weggejaag.

Dit is toe dat die gemeenskap die noodroep op die Waterberg-noodgroep gehoor het. Manie het gesê dat hy van die bed afgerol het. “Flora het nader gerol en die tou van my hande afgebyt. Ons kan nou nog nie verstaan hóé sy deur daardie vreeslike tou kon byt nie,” het hy gesê. Met sy hande los, kon hy sy selfoon in die hande kry en die noodroep uitstuur.

Die rowers het met Van der Merwe se wit Ford-enkelkajuitbakkie met ’n rooi seil op terug Vaalwater toe gery en die bakkie agter Obaro se petrolaanleg gelos waarna hulle glo doodluiters oor die pad gestap het waar die res van die gemeenskap saamgebondel het.

Die verdagtes is op Obaro se kameras vasgelê en volgens die polisie is een van die rowers, wat in Mamelodi woon, reeds aangekeer. Die rowers het, volgens AO Petrus Lefoka van die polisie in die dorp, die geld in ’n nabygeleë veld verdeel, waarna hulle in verskeie rigtings gespat het.

Van der Merwe het gesê sy hart is vol dankbaarheid teenoor God en die mense van Vaalwater wat met soveel meelewing opgetree het. “Dit is ’n riem onder die hart om te weet mense is daar vir mekaar,” het hy gesê.
“Dankie aan almal wat help uitkyk het en die bakkie by Obaro opgemerk het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button