CrimeNews

Polisie en gemeenskap hou karnaval om te wys waar hul hart lê

"Ons moet opstaan teen misdaad. Dinge loop nie verkeerd weens slegte mense nie, maar omdat goeie mense nie bereid is om te praat nie. Ons moet vandag sê dat ons nie verder gaan stilbly nie."

Die karnaval en optog wat die polisie en gemeenskap op Vrydag 1 Junie deur die strate van Mookgophong tot by die Mookgophong-stadion gehou het, was ’n groot sukses en het baie aandag getrek.

Dit is die mening van AO George Ledwaba van die polisie in die dorp, wat ook een van die organiseerders was.

’n Groep motorfietsryers, perderuiters, trompoppies en ses vlotte van die verskeie polisiestasies in die Modimolle-kring het deel gevorm van hierdie bewusmaking teen misdaad in die gebied.

Elke vlot van die polisiestasies van Modi-molle, Mookgophong, Rankinspas, Vaalwater, Roedtan en Tuinplaas het ’n ander vorm van misdaad voorgestel.

Die vlot van Mookgophong het die misdaad teen vroue en kinders uitgebeeld en Modimolle het ’n tronksel op hul vlot gebou. Kol. Loekie Harmse, stasiebevelvoerder van Modimolle, het self ook op die vlot gery. Sy het aan Die Pos gesê sy is baie tevrede met die opkoms.

Ná die optog deur die strate, is die verrigtinge by die stadion voortgesit waar verskeie sprekers en dansers opgetree het. Die Suid-Afrikaanse Weermagorkes het ook opgetree.

Genl.maj. Jan Scheepers, adjunkkommissaris van die polisie in Limpopo, het in sy toespraak gesê misdaadsyfers in die Modi-molle-groepgebied is te hoog en daarom het hy die inisiatief vir die karnaval van die gemeenskapsleiers en die polisie in die omgewing geloof. “Mense in die omgewing voel nie veilig nie en die polisie kan nie alleen misdaad beveg nie. Inwoners in hierdie gemeenskap moet sê genoeg is genoeg. Ons moet opstaan teen misdaad. Dinge loop nie net verkeerd weens slegte mense nie, maar omdat goeie mense nie bereid is om te praat nie. Ons moet vandag sê dat ons nie verder gaan stilbly nie,” het Scheepers gesê.

Scheepers het ook verwys na Genesis 11 waar daar staan dat wanneer mense verenig en uit een mond praat en een doel het, niks onmoontlik is nie.

Lt.genl. Nneke Jimmy Ledwaba, provinsiale kommissaris, het ook die verrigtinge bygewoon en die mense toegespreek.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit was ook teenwoordig.

David Masemene, bestuurder van die onderwysdepartement se streekkantoor in Mookgophong het in sy rede die gemeenskap verseker dat daar nou gereeld by skole in die omgewing toegeslaan sal word om die gebruik van dwelms te bekamp en misdaad te voorkom.

“Ons moet saam met die polisie werk om gevaarlike wapens uit ons skole te hou. Ons sal ondersteunend wees en van aanstaande week af sal daar gereeld ondersoeke by die skole wees,” het hy gesê.

Elvis Ramagale, ’n gemeenskapsleier, het op sy beurt gesê die gemeenskap is moeg vir korrupsie en polisielede wat saam met misda-digers werk.

Volgens hom het hy besware van die geestelike leiers in Mookgophong ontvang oor die sterftes weens geweld, asook die misbruik van dwelms en drank.

Hy het ’n vergadering met gemeenskaps-leiers gereël waar die sake bespreek is en waarna daar besluit is om die provinsiale polisie te betrek. Die verrigtinge het ongeveer 15:00 verdaag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button