CrimeNews

Coertze-aanvallers glo onwettig in land

Nog ’n klag is teen die twee verdagtes wat in verband met die aanval en roof op Hennie en Marie Coertze in die Bela-Bela-landdroshof verskyn, ingedien.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die verdagtes glo onwettig in Suid-Afrika woon.

Vier rowers het die bejaarde egpaar kort ná 01:00 op Dinsdag 8 Mei op hul plaas op die Alma-pad buite die dorp aangeval, vasgebind en van verskeie waardevolle items beroof, het Die Pos vroeër berig. Die Coertze-egpaar is dr. Roelof Coertze, mediese praktisyn in die dorp, se ouers.

Die polisie het die dag ná die aanval, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), twee verdagtes, Albert Ndlovu en Mildred Makondo in Winterveld, Soshanguve, in hegtenis geneem.

Ndlovu en Makondo is onderskeidelik met die egpaar se gesteelde bakkie en kragopwekker betrap, het die polisie gesê.

Die verdagtes is reeds aangekla van huisroof met verswarende omstandighede, asook van die besit van gesteelde goedere.

Die klag wat verband hou met hul beweerde onwettige verblyf in die land, is op Donderdag 31 Mei tydens hul verskyning in die hof bygevoeg.

Die saak is uitgestel vir die verdagtes om vir borgtog aansoek te doen, maar hulle het intussen hul aansoek laat vaar, het die hof gehoor.

Landdros Gerrit Olivier het die saak na Donderdag 21 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.

Ndlovu en Makondo is steeds in aanhouding.

Related Articles

Back to top button