CrimeNews

Bejaarde met mes gesteek by vakansieoord naby Bela-Bela

’n Man van Bela-Bela is Dinsdag 22 Mei by ’n vakansieoord op die Eersbewoond-pad naby Bela-Bela deur ’n groep rowers by sy karavaan aangeval en met ’n mes gesteek.

Christo Janse van Vuuren (in sy sestigs) van Bela-Bela is in die vroeë oggendure van Dinsdag 22 Mei by ’n vakansieoord op die Eersbewoond-pad deur ’n groep rowers by sy karavaan aangeval en met ’n mes gesteek.

Die eienaar van die oord het Die Pos gevra dat die oord se naam nie bekendgemaak word nie.

Volgens die eienaar het Janse van Vuuren sy karavaan die oggend verlaat om badkamer toe te gaan toe hy buite die deur op die rowers afgekom het. Janse van Vuuren en die rowers het aan die stoei geraak en een van hulle het hom in die arm raakgesteek.

Die eienaar het voorts gesê Janse van Vuuren se vrou, Alet, het hard om hulp geroep toe die rowers haar man oorval het. Sy het haar man te hulp gesnel en die rowers met haar kierie geslaan.

Die oord se veiligheidsbeamptes was binne oomblikke op die toneel nadat hulle haar hulpkrete gehoor het, maar die rowers het toe reeds gevlug, het die eienaar gesê.
Die rowers het volgens die eienaar vermoedelik toegang tot die oord gekry deur ’n grensdraad te knip.

Volgens sers. Hester van Zyl, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, was daar moontlik drie aanvallers, maar dit kan ook minder of meer wees.

Van Zyl het gesê die voorval het ongeveer 04:00 plaasgevind en die rowers kon nie daarin slaag om iets te steel nie.

Die polisie, lede van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), asook die ambulansdiens was spoedig op die toneel. Die polisie en GPF-lede het teen druktyd die verdagtes se spore gevolg. Janse van Vuuren se vrou was erg getraumatiseerd ná die aanval en die GPF het reëlings getref sodat sy berading ontvang, het die eienaar gesê.

Janse van Vuuren is na die Phodi-kliniek (voorheen die St. Vincent’s-hospitaal) vir behandeling geneem. Hy was teen druktyd reeds ontslaan.

Die eienaar het gevra dat die Janse van Vuuren-egpaar se privaatheid gerespekteer word.

’n Saak van huisroof word tans ondersoek en geen verdagte is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die eienaar het sy dank teenoor elke persoon wat op die voorval gereageer het uitgespreek, veral teenoor die mede-eienaars op die oord wat mekaar ondersteun het.

“Ons moedig elke inwoner in die omgewing aan om meer paraat op te tree, want hierdie misdrywe kan op enige plek en tyd plaasvind,” het die eienaar gesê.

Die Eersbewoond-omgewing gaan veral deesdae gebuk onder misdaad en oorde en privaat wonings word geteiken en items gesteel — veral in die vroeë oggendure.

Grondeienaars het al tevore op openbare, asook polisiever-gaderings gekla dat die aanhou-dende misdaad daartoe lei dat hulle finansiële skade ly.

Die meeste eienaars het veral verwys na die nabygeleë Tsakane-nedersetting wat probleme soos rusverstoring vir talle Eersbewoond-inwoners veroorsaak.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button