CrimeNews

Nagmerrie-ervaring vir ma van Vaalwater

’n Vrou en haar ses maande oue baba is ongedeerd ná ’n mislukte plaasaanval op Vaalwater.

’n Vrou van Vaalwater en haar ses maande oue baba is ongedeerd ná ’n mislukte plaasaanval op Dinsdag 15 Mei helder oordag waartydens drie mans toegang tot die huis probeer kry het.

Nicolene Human en André Lewis, haar verloofde, woon in ’n huurhuis buite die dorp. Lewis werk vir Hendrik Swanevelder in die omgewing.

Lewis, ’n werktuigkundige, het aan Die Pos gesê hy het ongeveer 60 km van die huis af gewerk toe Human se eerste oproep deurkom. Volgens hom het sy vermoed dat daar vyf mans buite die huis is en dat dit nie lyk soos iemand wat sy ken nie. Sy het ook vir hom gesê dat die mans haar buitentoe roep.

“Ek het Adriaan Brits, ’n vriend van my wat nader aan die huis was, gebel om te gaan vasstel wat aangaan en self voet in die hoek gesit huis toe,” het Lewis vertel.
Volgens Human het die voorval enkele minute voor 12:30 plaasgevind. “Ek het na die venster gestap en ’n foto geneem. Dit het gelyk asof een van die mans ’n vuurwapen vashou,” het sy gesê. (Dié foto is volgens haar later aan die polisie beskikbaar gestel.)

Nadat die honde begin stil word, het Human vir ’n oomblik gedink sy het dalk verniet geskrik en dat die mans weggegaan het. Human het by nabetragting gesê sy dink die honde is dalk gewoond aan baie werkers wat kom en gaan en toe hulle niks van haar hoor nie, het hulle stil geword.

Die mans het egter 15 minute later die erf ingestap. Een het die voordeur begin stamp met sy skouer.

Hul dogtertjie, Nicole, het ook begin huil. “Ek het na ons kamer gehardloop en André se knipmesse gegryp en een onder die eerste deur gedruk en toe nog een onder die volgende deur sodat die deure nie van buite oopgemaak kon word nie. Een van die mans het die agterruite begin stukkend slaan en een het van die dak af begin kap om in te kom.”

“Die deure met die knipmesse in is nie oopgebreek nie,” het Lewis gesê. “Ek kan nie glo Nicolene het dié raad wat ek haar eenkeer gegee het, onthou nie.”
Human vermoed dat die man op die dak die pad dopgehou het vir wanneer iemand aankom. Die plaashek is ongeveer 500 m van die huis af.

Terwyl die een man die ruit en ogies-kabeldiefwering probeer breek het en hom teen die tweede stel staaldiefwering vasgeloop het, het die ander een aan een van die deure met die knipmesse begin slaan. Human het toe ’n noodboodskap op die Facebook-blad Vaalwater — hart van die Waterberg uitgestuur. “Ek het die heeltyd daarop gekonsentreer om Nicole kalm te hou.”

Marlene Botha, ’n inwoner van Vaalwater, het die noodroep op die Facebook-blad raakgesien en dit op die GPF-veiligheidsgroep geplaas. Die Vaalwater-gemeenskap en die polisie het ná die boodskap onmiddellik gereageer.

Brits het eerste by ’n toegesluite plaashek aangekom, oor die hek gespring en na die huis gehardloop.

Die man op die dak het by die stort se dak probeer inkom, maar toe hy die sink gelig kry, het ’n sementlaag gekeer dat hy toegang tot die huis kon kry, het Human gesê. Dit was toe dat Lambert van der Westhuizen, wat ook die noodroep gehoor het, in sy helikopter oor die huis se dak gevlieg het om oorkant die teerpad by Louis Marx te land.

Human vermoed dat dit moontlik Brits, wat eerste op die toneel aangehardloop gekom het, se lewe gered het, want die drie mans het daarna volgens die polisie in drie verskillende rigtings gespat, het Human gesê. Human het aanvanklik vermoed dat daar vyf mans was, maar daar was waarskynlik net drie.

“Ek het die gesluite hek oopgekap en was net ná Adriaan hier. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Nicolene het nie geantwoord toe ek roep nie. Ek het verwag om hulle dood te kry,” het ’n bewoë en ontstelde Lewis ná die voorval aan Die Pos gesê.

Volgens Lewis vermoed hy dat die booswigte met sy Mercedes wou wegry, maar nie reggekom het nie omdat hy elke dag ’n verstelling aan die voertuig maak juis om dit te beveilig. “Al my dieselgeld en kleingeld is uit die voertuig gesteel.”

“Ons kan nie genoeg dankie sê aan die inwoners van Vaalwater en die polisie nie. Dit is ongelooflik hoeveel reaksie daar was. Louis en Lambert, talle lede van die gemeenskap en die polisie het feitlik saam met my by die toneel aangekom.”

Lewis het aan Die Pos gesê hulle het ’n dag ná die voorval ingewande van ’n dier wat oor die heining gehang het, gekry. Hulle weet nie of dit verband hou met die voorval nie.

Kapt. William Mpete van die polisie in die dorp, het by navraag gesê hulle ondersoek die saak, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button