CrimeNews

Van Tonder-hofsaak vir ses maande uitgestel

Herman van Tonder, eienaar van Mbizi Game Lodge & Spa buite Bela-Bela het op Vrydag 4 Mei weer vlugtig in die hof in Bela-Bela verskyn.

Herman van Tonder, eienaar van die Mbizi Game Lodge & Spa buite Bela-Bela, het op Vrydag 4 Mei vir die derde keer in die Bela-Bela-landdroshof verskyn in verband met sy gewese vrou se raaiselagtige dood sowat drie jaar gelede.

Van Tonder word aangekla van die moord op Elrina van Tonder. Sy is op 6 November 2014 by die St. Vincent’s-hospitaal op die dorp dood verklaar. Daar is destyds beweer dat sy weens “inwendige bloeding” oorlede is.

Volgens die polisie is die dossier oor haar dood na die direkteur van openbare vervolging (DOV) verwys wat beslis het dat Van Tonder van moord op sy vrou aangekla moet word. Renier van Rooyen, senior staatsaanklaer in Modimolle, het aan Die Pos gesê dat Van Tonder ook nou van bedrog aangekla word.

Van Tonder is op Maandag 29 Januarie in hegtenis geneem en het dieselfde dag vlugtig in die hof verskyn. Borgtog van R15 000 is aan hom toegestaan.

Tydens die jongste hofverskyning is aangevoer dat die staat nooit die lys van getuies aan Van Tonder se regsverteenwoordigers bekendgemaak het nie. Die hof het hierdie aansoek tydens ’n vorige verskyning in Maart toegestaan.

Die hof het ook gehoor dat daar uitstaande verklarings is wat die polisieondersoek. betref. Van Tonder se regsverteenwoordiger het voorts aangedring op afskrifte van die ondersoekverslag.

AO Tommie van Blerk was ten tyde van Van Tonder se inhegtenisname die ondersoekbeampte in die saak, maar is in Maart oorlede. Kapt. Renier Schutte van die Bela-Bela-polisie is intussen as ondersoekbeampte aangewys.

Schutte het aan landdros Gerrit Olivier gesê hy sal die lys van getuies binne die volgende twee weke gereed hê.

Die saak is na Vrydag 3 Augustus uitgestel sodat die ondersoekbeampte aan dié versoek kan voldoen.

Van Tonder, wat by die hof deur sy verloofde, Karlien van der Westhuizen, bygestaan is, se borgtog is verleng. Hy moet steeds elke Maandag by die Bela-Bela-polisie aanmeld. Hy mag nie met staatsgetuies inmeng nie en sy paspoort is ingetrek.

Van Rooyen het teen druktyd gesê die saak sal waarskynlik tydens die volgende hofdatum na die hooggeregshof in Polokwane oorgeplaas word.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button