Business

Finansies: Maak voorsiening vir aftrede – deel 3

In ’n vorige aflewering het ons gesels oor die 15 jaar ná aftrede en die opsies en rigting wat ’n mens kan inslaan.

Hierdie aflewering handel oor hoe ’n mens die laaste drie jaar tot aftreedatum behoort te benader.

Drie jaar voor jou aftreedatum beteken jy is in die pylvak van jou loopbaan as werkende mens.’n Atleet soos Gerda Steyn se langpadwedloop in die Comrades-marathon is fyn beplan, maar die laaste 10 km wenpaal toe kan bepaal of sy die rekord kan verbeter. Drie jaar voor jou aftreedatum moet jy bepaal of jy die beleggingsfonds vir jou bepaalde behoeftes in die korrekte bateklasse geplaas het.

Jy kan nie geld waaruit jy byvoorbeeld ’n maandelikse inkomste gaan benodig, nou nog in aandeelgebaseerde fondse hou nie — die risiko is te hoog dat ’n mens kort voor jou aftrede ’n markregstelling beleef en dan heelwat kapitaal, wat vir inkomste bedoel was, inboet.

Max Verstappen, die huidige Formule 1-wedrenkampioen, het al menige wedren oor die laaste paar rondes met goeie vernuf beklink. Jy moet jou aftreedatum kan vier omdat jy vernuftigheid aan die dag gelê het en kundigheid in jou beplanning betrek het. Gerda en Max, en talle ander sportkampioene, behaal sukses as individu, maar nie sonder professionele kundige bystand nie.

Maak seker jy staan op die podium deur betyds wyse besluite met jou aftreegeld te neem.

Drie jaar voor aftrede verg net soveel insette as wat jy reeds oor die langer reis ná aftrede gedoen het. Nou moet jy jou geld wat in pensioentipe fondse soos uittree-annuïteite (verpligte geld) en ook jou diskresionêre fondse (vrywillige gelde) belê is, nagaan en seker maak dit sal korrek volgens jou aftreeplan en die behoeftes wat jy het, geïmplementeer kan word. So maak jy seker dat jou begroting klop, daar steeds kapitaalgroei sal wees wat inflasie klop, voorsiening vir onvoorsiene omstandighede en ook mediese uitgawes sal wees. Jou belasting-
beplanning moet in orde wees.

Hierdie drie jaar wat jy nog oor het, sal ook gebruik moet word om te besluit oor die plek waar julle wil aftree. Wil jy in ’n stad of dorp aftree of eerder by die see of in die Bosveld? Gaan jy verhuis na ’n ander provinsie of na die buiteland? Gaan jy in ’n aftree-oord woon of op ’n plasie of jou eie strandhuis? Nie altyd ’n maklike besluit wat kan wag tot 100 m voor die eindstreep nie.

’n Aftreedatum kan soms uitgestel word, maar tyd wag vir niemand nie en daarom: Hoe gouer opsies ondersoek en uitgeklaar word, hoe beter. Jou aftreehuis se geld moet beplan word en jy moet seker maak of jy regtig wil wegtrek van bestaande netwerke en vriendekringe.

Dit is nie altyd so maklik om op ’n vreemde plek tuis te raak nie en dit sluit die klimaat in. Maak seker of jy die winde van verandering sal kan trotseer en maak dit vir jou en jou wederhelfe so gemaklik en aangenaam moontlik deur goeie huiswerk oor alle aspekte te doen.

Moenie jou reisplanne, nuwe of ander voertuig en versekeringsuitgawes vergeet nie. Daar is talle faktore om oor te praat en te evalueer. Gerda en Max gesels voortdurend met hul eie kundiges oor die wedlope en renne. Bly in kontak met jou raadgewers en verseker jou finansiële welstand wat jou ’n plek op die podium kan bied. Van uitstel kom afstel.

Related Articles

Back to top button