Business

Finansies: Maak só voorsiening vir jou aftrede (deel 2)

In ’n vorige rubriek het ons in die algemeen daarna verwys dat mense behoorlik moet beplan as hulle finansieel onafhanklik wil aftree.

Jy moet die kaptein wees van jou eie aftree-skip en dus vir jou ’n stuurman en ander kundiges kry om jou planne suksesvol te maak.

In hierdie rubriek praat ons oor wat ’n mens te doen staan as jy ongeveer 15 jaar van aftrede is. Hoe vroeër ’n mens begin spaar vir aftrede, hoe beter is jou voorsiening vir die oudag, maar ondervinding leer dat die meeste mense eers sowat 15 jaar voor aftree-ouderdom ernstig begin spaar.

Dit is omdat mense wat werk en gesinne opbou en onderhou meestal nie genoeg geld het om ietsie ekstra opsy te sit vir hul aftrede nie. In die meeste gevalle word noemenswaardige spaarpotensiaal eers bo 50 jaar ’n werklikheid. Skuld, kinders se studies en medies- en versekeringsuitgawes vreet geld en daar is net nooit genoeg om alle gate toe te stop nie.

Juis daarom wil ons hier praat van ’n lang bootreis waar daar betyds ’n goeie reisplan in plek moet wees, maar met die besef dat hoe langer ons reis, hoe groter die koste kan word.

Solank ons dus ekonomies aktief en gesond genoeg is om ’n inkomste te genereer, moet ons soos miere werk en wegsit vir die tye wanneer ons nie meer kan werk en derhalwe sal kan spaar nie.

Jy word ouer, swakker en dalk sieker — en dit is wanneer jou geldjies vir jou moet werk en nie jy meer vir geld nie! Daarom is jou poging in die laaste 15 jaar uiters belangrik.

Nou behoort die kinders en jou skuld uit jou sak te wees en jou inkomste behoort te gegroei het. Dus: jy behoort nou veel groter bedrae te kan spaar vir jou aftrede.

Beplan dus jou finansiële reis oor die lang termyn en sorg dat jy so vroeg moontlik begin spaar met die wete dat jy nie paniekerig hoef te raak oor al jou uitgawes in die beginjare nie. Solank jy jou skuld en kinders, indien moontlik, voor 50 suksesvol uit jou sak kan kry.

Met 15 jaar oor kan jy bykans al jou spaargeld ten volle in die aandelemark belê, aangesien jy kortstondige markbewegings kan uitry om die krag van groei in gelyste maatskappye ten volle te benut. Belegging in aandele klop inflasie en is belasting-effektief.

Jy kan in hierdie bateklas belê in vrywillige (jou eie fondse) of verpligte (pensioentipe) gelde sover toelaatbaar.

Dit is daar waar jou aftreeboot se stuurman (kundige) jou moet adviseer, maar die verantwoordelike persoon is jy, die kaptein, wat die besluit om te spaar moet maak.

As die skip sink, mag die stuurman spring, maar jy is die een wat gaan sink as jy nie betyds goeie planne maak nie.

Almal se situasies is egter verskillend.

Elke persoon se omstandighede is uniek.

Statistieke toon dat slegs sowat 5% van mense in ons land op aftrede finansieel onafhanklik is.

Probeer om nie deel van die ander sy te word nie. Dit ís moontlik met goeie beplanning.

In ’n volgende aflewering kyk ons na die laaste drie jaar voor aftrede.

Related Articles

Back to top button