Business

Finansies: Maak só voorsiening vir jou aftrede

Soms aanvaar ’n mens dinge bloot as vanselfsprekend, maar ons moet ook wakker wees wanneer dit kom by beplanning.

Baie mense wat aftree, is nie altyd behoorlik ingelig oor al die faktore wat ’n rol speel in hierdie besluit nie.

In die volgende aflewerings wil ek graag aan hierdie aspekte raak sodat lesers goed ingelig sal wees wanneer hulle beplanning vir hul aftrede doen.

Net soos ons nie summier kan aanvaar dat aftreegelde enduit gaan hou nie, net so min kan ons aanvaar dat ’n mens sonder behoorlike beplanning suksesvol kan aftree. Party mense verhuis sommer na ver plekke waar hulle nog geen vriende het nie en is dan later spyt. Met groot koste keer hulle dan terug na die plek waar hulle jare lank gewoon en gewerk het. Dit is maklik om eufories te raak en te dink alles gaan ten goede uitwerk. Deeglike besinning is egter nodig.

Om af te tree, is soos ’n lang bootreis. Die kaptein het ’n stuurman en ’n goeie kompas. Die boot vertrek eers as hy gereed is om storms te kan hanteer en alle voorbereiding vir die passasiers se behoeftes getref is. Ook weet hy waar oral vasgemeer gaan word en hy maak seker daar is ’n dokter en mediese geriewe aan boord. Dink gerus ’n bietjie so daaraan as jy oor aftrede peins. So ’n groot boot, hoor ek nou die dag, het selfs geriewe waar ’n liggaam gehou kan word indien iemand ter see sterf.

Ek wil in die volgende weke se aflewerings pitkos en agtergrond verskaf oor:

  • Tien tot 15 jaar van aftrede af. Wat nou?
  • Drie jaar voor aftrede. Wat nou?
  • Op aftrede en my geld moet belê word.
  • Aftreejare en die hantering van my situasie.
  • My aftreegeld: wat as ek sterf?

Vir eers moet ons net mooi verstaan wat is die basiese geldelike voorsiening. In die finansiële beplanningswêreld word gepraat van “verpligte of vrywillige geld” (ook diskresionêre fondse). Dit is goed as ’n mens die verskil mooi verstaan, want dan weet jy waaroor dit gaan as jy met ’n raadgewer praat.

“Verpligte geld is daardie geld wat jy in ’n instrument/produk belê wat deur die wet op pensioenfondse hanteer word. Dit sluit in alle aftreefondse wat deur werkgewers ingestel is en deur pensioenfondsadministrateurs namens die werknemer bestuur word. Pensioen-, voorsorg of uittree-annuïteitsfondse is deel hiervan. Ja, al werk jy vir jouself en jy dra by tot ’n uittree-annuïteit, is dit wel ’n privaat pensioen, maar wat steeds deur die wet hanteer word. Jy is verplig om minstens tweederdes hiervan in ’n verpligte annuïteit/jaargeld te plaas waarna normaalweg verwys word as “my pensioeninkomste per maand”.

Die ander derde kan jy ook so belê, maar dit maak nie belastinggewys sin nie.

“Vrywillige of diskresionêre” geld is daardie geld wat jy afsonderlik van voormelde gespaar het in produkte soos effektetrusts, uitkeerlewensversekering, bankdeposito’s, opbrengste op bates wat jy verkoop het en selfs die na-belaste een-derde lompsom van jou pensioenfonds of uittree-annuïteit.

Met hierdie inligting vertrou ek dat ons volgende gesprek oor aftreefondse maklik op die oor sal val.

Related Articles

Back to top button