Business

‘Sorry oom!’

Dit bly altyd goed om ingelig te wees oor die goed en sleg van die lewe.

So is daar baie goeie dinge wat gebeur wanneer jy jou motor laat diens.

Nou die dag vertel ’n kliënt dat hy ’n gratis onderdeel by sy verskaffer ontvang het omdat laasgenoemde vergeet het om die betrokke onderdeel tydens van die vorige dienste te vervang.

Dit is mos goeie diens, of hoe? Die kliënt kyk mos nie hoe hulle sy voertuig diens en of hulle hom regtig gediens het nie, nie waar nie? Hier gaan dit oor vertroue in jou diensverskaffer.

Maar so gebeur dit met ’n ander persoon (kom ons praat van kliënt B) wat al vir baie jare sy motor met groot vreugde by ’n sekere handelaar laat diens.

Hy ken die mense daar op voornaamterme. Die werkwinkelbestuurder skakel hom persoonlik om te sê die skokbrekers moet vervang word en die verkoeler lek — die koste word beraam op sowat R29 000.

Kliënt B besluit toe hierdie keer om self eers ondersoek in te stel. Die resultaat: die een skokbreker lek wel, maar die verkoeler het absoluut geen lekkasie nie. Inteendeel, daar is drie maande gelede ’n nuwe verkoeler ingesit.

Die werktuigkundige het ’n foutiewe diagnose gemaak. Was dit ’n menslike fout? Hy sê net: “Sorry oom.”

Kliënt B betaal en ry weg, maar onthou dat die wielsporing ook gedoen is en hy hou onmiddellik by die eerste vulstasie stil om die banddruk na te gaan.

Die rede: hy het onlangs self die bande tydens ’n vakansie in die Kruger-wildtuin gepomp met ’n pomp wat nie lesings gegee het nie. Hy weet dat jy nie wielsporing kan doen met foutiewe banddruk nie.

Hy was redelik verbaas toe die lesings aansienlik verskil op die verskillende bande — van 1,85 bar tot 2,90 bar van band. Weer is die antwoord op sy navraag by die diensstasie: “Sorry oom”.

Maar hoe herwin ’n mens weer vertroue? Dit is net soos ’n chirurg wat jou mangels moes uithaal, maar per abuis jou voet amputeer — “Sorry oom!”

Foutiewe banddruk lei tot foutiewe wielsporing. Dit kan veroorsaak dat jou motor nie stabiel is nie en selfs kan rol wat ernstige gevolge kan hê. Die standaard verskoning: “Sorry oom” gaan nie goed genoeg wees nie.

Nou ja, kliënt C weer, het ’n vervoeronderneming en laat een van sy trokke hersien omdat die koppelaar lol. Die koppelaarplaat word toe netjies vervang, maar die
fout bly hardnekkig sit. Die werktuigkundige beweer dit is kliënt C se vragmotorbestuurder wat nie mooi ry nie. Kliënt C sê niks, maar kry ’n tweede opinie by ’n ander persoon wat toe by nadere ondersoek bevind dat die werktuigkundige van meet af aan die verkeerde koppelaar geïnstalleer het. “Sorry oom.. (Arme vragmotorbestuurder wat die skuld moes kry vir die diensverskaffer se nalatigheid).

Wees wakker. Dit is nie noodwendig die puik handelaarsaak se skuld nie. Hy hou by die reëls en maak staat op sy personeel om die vlag hoog te laat wapper, maar werkers is mense en mense maak foute. Daarom: gebruik jou reg om self dienste en onderdele na te gaan. Jy is die een wat betaal. Dalk met jou lewe of jou voet! Kry ’n tweede mening as jy twyfel.

Related Articles

Back to top button