Advertorial

Nuwe baadjie vir Ons Winkel in Mookgophong

Mookgophong spog deesdae met ’n splinternuwe Ons Winkel in die dorp.

Dié sakeonderneming het ook van perseel verhuis en die nuwe perseel is maklik bereikbaar vir kliënte.

Tanya Potgieter is die nuwe kontrakteur van die Ons Winkel wat op Maandag 9 Oktober geopen het. Sy het tydens die opening aan Die Pos gesê sy is baie opgewonde oor die nuwe uitleg en perseel wat die kliënte se ervarings sal verbeter.

Die Ons Winkels is Solidariteit Helpende Hand se landwye liefdadigheidswinkels (thrift stores).

“By hierdie winkels kan inwoners tweedehandse goedere skenk en dalk self een of twee winskopies raakloop. Die winste van inwoners se ongebruikte of oortollige items stel Helpende Hand in staat om volhoubare verandering in die gemeenskap te bewerkstellig,” het Potgieter gesê.

Die skenkings van tweedehandse, of selfs nuwe items, skep weer hoop vir ander mense. Volgens Helene Schoeman, area-bestuurder van Limpopo se Ons Winkels, is die winkel in Mookgophong nie sommer enige winkel nie. Hierdie tweedehandse winkel spog met voorraad van ’n wye verskeidenheid goedere van goeie gehalte en items word teen bekostigbare pryse vir die publiek aangebied.

Met die opbrengs van die verkope bied Helpende Hand maatskaplike hulp in die gemeenskap en loods projekte wat gemeenskappe bevorder en ophef. Die Ons Winkels skep ook werkgeleenthede en dra by tot studiefondse. Op hierdie manier verwesenlik hulle studente se lewensdrome. Bydraes word dus nie net as nog ’n voorraaditem gesien nie, maar as ’n toekomsgeleentheid.

Ons Winkel help ook om “Bemagtig-’n-kind”-projekte, Ons Plek en die studiefondse te ondersteun. Daar is reeds 22 studente in Mookgophong gehelp om hul studies te voltooi.

Inwoners word genooi om die pragtige winkel te besoek of om skenkings te maak by Louis Trichardtlaan 4, Mookgopong. Skenkings kan ook by inwoners opgelaai word. Bel gerus vir Tanya Potgieter by tel. 065 953 7760 vir meer inligting.

Inwoners wat graag by enige van Helpende Hand se projekte betrokke wil raak, bel vir Carol Ankiewicz (maatskaplike werker Limpopo-streek) by tel. 062 560 4300.

Related Articles

Back to top button