AdvertorialSponsored

Mookgophong kry splinternuwe moderne mini-inkopiesentrum

Die bekende boer en sakeman van Mookgophong, Jaco van der Walt, het sy droom verwesenlik met die nuwe ontwikkeling van ’n mini-inkopiesentrum in die dorp. Sy vrou Elsabé is volstoom aan sy sy.

Van der Walt het onlangs sy nuwe onderneming, wat op die perseel van die Waltkon-slaghuis-gebou is, geopen. Hierdie gebou huisves ’n ultramoderne
slaghuis, genaamd Waltco Vleis, Bron-apteek, MJ-geweerwinkel en die Wimpy wat ná 38 jaar verhuis om in die nuwe sakesentrum te wees.

Waltco Vleis huisves ook ’n bakkery, die London-groentepadstal en hulle sal wegneemetes bedien. Dit sal dus ’n eenstopwinkel vir kliënte wees.

Die slaghuis spog met ’n indrukwekkende droëvleis verouderingskamer wat van Duitsland af ingevoer is. Volgens Van der Walt is dit die grootste van sy soort in Suid-Afrika en vleis kan tot so lank as 100 dae verouder word.

“Ons sal al ons eie ham, pastrami en ander verwerkte vleise self maak. Ons kan 150 tot 200 beesagterkwarte per dag daar verwerk. Ons doel is ook om aan restaurante, lodges en spysenieringsdienste vleis te verskaf,” het hy gesê.

Van der Walt verskaf reeds vleis aan 74 Checkers-, Shoprite- en Pick & Pay-winkels in Gauteng, Limpopo en Noordwes.

Hy het groot waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hul jarelange ondersteuning en verskoning gemaak vir die ongerief tydens die bouery. “Hoewel die slaghuis reeds oop is, sal ons eers aan die begin van April die ander afdelings en dienste kan bied.

Die onderneming het hul elektrisiteit- en watervoorsiening opgegradeer en sal voortaan nie meer afhanklik wees van Eskom en die munisipaliteit nie.

Een van hul getroue kliënte sê: “Jaco is baie betrokke by die skole, kerke en gemeenskap en altyd bereid om te help. Hy belê onvoorwaardelik in die gemeenskap.”

Jaco het verskeie toekennings verwerf as verskaffer van die jaar. Hy sê hoewel hierdie toekennings altyd lekker is, is dit vir hom belangriker om erkenning te kry vir goeie gehalte beheer en kwaliteit vleis. Hy het ook in 2019 en 2020 toekennings gekry vir die beste abattoir.

Jaco het grootgeword in die Mookgophong-omgewing en was reeds van kindsbeen af by die vleisbedryf betrokke.

“Ek was net twee weke oud toe my pa in 1971 Springbok-slaghuis in Naboomspruit gekoop het. Ek het as seuntjie as’t ware daar grootgeword. Ek het my ouers op ’n redelike jong ouderdom verloor, maar dit was nog meer motivering om sukses te behaal. Ek het hard gewerk om ‘ons’ droom te bewaarheid,” het hy vertel.

Hy het hom ná skool as elektrisiën bekwaam en het landwyd groot konstruksiewerk gedoen. Hy het gespesialiseer in hoogspanningsdrade en transformators. Jaco het Elsabé in Mafikeng ontmoet en ook daar sy eerste plaas gekoop.

Ná sy pa se dood in 2000 het hy teruggekeer na die Waterberg om te kom boer waar sy wortels geanker is. Hy het tans ongeveer 7 500 beeste in ’n voerkraal en slag ongeveer 1 100 beeste en 600 varke per week by Waltkon-abattoir.

Hy nooi die gemeenskap om te kom inloer by die nuwe sakeperseel.

Related Articles

Back to top button