News

Die brand is verby, maar die lewe gaan aan

Die brande is dalk verby, maar die swaarkry wat dit meebring begin nou eers byt.

Talle boere sit sonder weiding vir hul vee en moet ten duurste aankoop. Lyndrade en besproeiingstoerusting moet ook vervang word.

Jaybee en Carien Booyse, wie se huis in Rietspruit buite Modimolle verlede week afgebrand het, het intussen in die stoor wat staande gebly het ingetrek en probeer om dit in ’n huis te omskep.

“Ons het nog nie water of elektrisiteit nie. ’n Mens voel soms moedeloos en oorweldig en wonder hoe gaan ons ooit weer op die been kom?” het Carien aan Die Pos gesê.

Hul huis en al sy inhoud is in die wydverspreide veldbrande wat op Maandag, 30 September in die omgewing gewoed het, vernietig.
Die egpaar het ’n bed en enkele meubelstukke ontvang.

“Ek het gelukkig klere en skoene gekry maar Jaybee het nog min kledingstukke om aan te trek. Ons is ook baie dankbaar vir die kos en kontant wat ons van weldoeners ontvang het,” het sy gesê.

In die nadraai van die brand het hulle besef dat bykans al die sôe van hul Europese bosvark-kudde wat dragtig was, hul kleintjies verloor. Hulle het ook die beendere van een van hul klein hondjies wat weg was, in die afgebrande huis gekry.

Die Booyse’s het nie versekering op hul huis gehad nie. “Die versekering was te duur en ons het besluit om eerder net ons voertuig te verseker.”

Dirk van Jaarsveld, wat net ’n paar 100 m verder bly, se woonstel het ook afgebrand en hom met min besittings gelaat. Hy het uitgehardloop met slegs die klere aan sy lyf.

Die ondersoekende aktualiteitsprogram, Carte Blanche, het die Booyse’s verlede week na die brand besoek.

“Dit was baie moeilik om weer in soveel besonderhede te vertel wat gebeur het.

Dit is asof mens alles weer herleef,” het Carien gesê. “Een van die dinge wat ek die helderste onthou is dat toe die grasdak vlam vat, dit geklink het of die huis huil, van alles wat sis van die vuur,” het sy gesê.

Lesers wat nog bydraes en skenkings kan maak aan dié gesinne word versoek om Ronel by tel. 083 389 6605 te skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button