MunicipalNews

Sake-ondernemings hoor oor die nuwe RNE-regering

Prof. Koos Malan van Sakeliga, wat as een van die voorste konstitusionele juriste in die land gereken word, het sy insigte hieroor met sakelui gedeel tydens die Waterberg Sakekamer se byeenkoms op Donderdag 15 Augustus in Modimolle.

“Ons is nou op ’n beter plek as voor of op 29 Mei 2024 – dit beteken egter nie dat alles nou maanskyn en rose is nie,” het hy gesê.

“Die enigste rede hoekom die ANC besluit het om saam met die DA en ander kleiner partye, te werk is omdat hulle slegs 40% steun in die verkiesing behaal het, maar hulle wil eintlik alleenbeheer hê.

Die DA het besluit om saam te werk om wat hulle noem die ‘oordeelsdagkoalisie’ tussen die ANC en EFF te verhoed,” het hy gesê. “Hulle het ook besef dat hulle hul plafon bereik het met 22% van die stem en dat hulle dit moontlik kan opskuif wanneer hulle in ’n posisie van mag is.”

Prof. Malan het verduidelik dat die ANC hul bewindsverlies wil beperk. “Hulle het reeds regeer-verlies as gevolg van die staat wat verswak het. In Suid-Afrika kan jy aan bewind wees, maar nie in staat wees om te regeer nie.”

Hy het gesê dat die DA, VF Plus en PA betrek is omdat die ANC slegs 159 van die 400 setels in die parlement gehad het. Die ANC probeer hul regeer-verlies beperk deur senior politici van ander partye aan te stel – ook in portefeulje komitees. Die DA, het hy gesê, het ’n goeie rekord van regering.

“Die aanstelling van die kabinet, waaroor die president alleengesag het, is egter nie verteenwoordigend van die stemme nie en die ANC het meer steun in die kabinet as wat sy 40% steun regverdig,” het hy gesê.

“Die ANC het die DA in sommige opsigte uitoorlê. Hul ooreenkoms op nasionale vlak dui aan dat dit as riglyn vir provinsies kan dien, maar dit is nie bindend nie. Hulle het dit reggekry om hul bewindsverlies goed te beperk.”

Prof. Malan het verduidelik dat die ANC se beleidsdokumente oor die afgelope 30 tot 40 jaar daarop fokus dat die party alle mag onder sy sentrale beheer moet kry. Onlangse nuwe wetgewing wat hul houvas op die privaat sektor probeer versterk, sluit in die wet op staatsveiligheid, die ontwikkeling van kleinsake en klimaatsverandering.

Die ANC se praktyk van kader-ontplooiing het bygedra tot die verswakking van die staat, want aanstellings word eerder op grond van kader-ontplooiing gemaak as op deskundigheid. Dit het verval in die staatsdiens tot gevolg. “Hulle bevoordeel hulself tot nadeel van die staat.”

Hierdie nadraai, glo hy, skuif regeer-vermoë terug na die privaatsektor en burgerlike instellings wat al meer rolle vervul.

“Wat moet sakelui se sienswyse wees? Sake is besig om uit die ANC se hande te glip. Die privaatsektor moet nie die geleentheid laat verbygaan nie en regeer-vermoë verkry deur beter besigheid te doen.”

* Die sakekamer se volgende ledevergadering vind op Woensdag, 18 September plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button