EntertainmentLifestyleNewsTravel

Toerismebedryf is Engeline se forte

Wanneer jou werk ook jou passie is, is daar min uitdagings wat jou van stryk kan bring. Engeline Gericke van Bela-Bela kan onomwonde sê die Waterberg-toerisme is haar passie.

Sy is in Ellisras (Lephalale) gebore, en het ook daar groot geword en skool gegaan. Nadat sy getroud is het die gesin hul in Midrand gevestig en het sy haar op bemarking toegespits. Sy het aan

Die Pos gesê dat sy ’n instinktiewe aanvoeling vir bemarking het en skryf haar sukses by groot maatskappye soos Simba en Kellogg’s daaraan toe.

Die stadslewe was egter ’n perd van ’n ander kleur. Sy het gebly hunker na die geborgenheid en veiligheid in die Bosveld. Na herhaalde inbrake by hul huis, het haar oë begin dwaal na geleenthede in die noorde van die land.

Sy het ’n rustiger, en veiliger lewe gesoek vir haar en haar gesin. Hul moes egter nog naby die stad wees om werksverpligtinge na te kom. So beland hul in 1997 in Warmbad (nou Bela-Bela).

Groot sakelui het gou kennis geneem van kundigheid in hul midde en Aventura (Forever Resort) roep haar hulp in om ’n internasionale kabelski-kompetisie te reël by hul nuwe kabelski-dam.

Met die sukses wat sy hier behaal het, het Forever Resorts se hoofbestuur haar betrek by die bemarking van verskeie oorde onder andere Warmbad, Badplaas en Loskopdam.

Engeline erken dat sy gelukkig was om altyd goeie mentors te hê wat haar van goeie raad voorsien het. Haar reputasie as uitstaande bemarker lei daartoe dat sy die ‘Sonskyn Fees’ in Warmbad begin.

Dié gewilde fees het jaar op jaar gegroei tot een van die grootste plaaslike feeste in die land. In 2002 was daar ’n rekordgetal van 17 000 besoekers aangeteken wat by oorde en natuurreservate in die omgewing oornag het.

Die omgewing het ekonomies gefloreer en plaaslike sakelui het gebaat by die baie naweek- en vakansiegangers. Sy het die geleentheid gesien om haar eie sakeonderneming te begin, en Essential Marketing is gestig.

Hulle is in die Waterberg as ’n steunpilaar vir toerisme beskou.Oor haar betrokkenheid by Waterberg Toerisme borrel sy van opgewondenheid. Die toerisme bedryf, voel sy, moet nie net oor verblyf gaan nie.

Toerisme moet die ganse streek, en sy mense bevoordeel. Die rol van ’n toerisme-kantoor het ook baie verander, en die potensiaal vir Bela-Bela en die Waterberg in geheel is enorm, het sy aan Die Pos gesê.

“Toerisme begin by OR Tambo-internasionale lughawe. Die feit dat dit ’n uur of twee se ry vanaf Bela-Bela is moet beter benut word. Bela-Bela se lae malariarisiko gebied waar die Groot Vyf gesien kan word, asook die nagenoeg 22 000 beskikbare beddens moet beter ontgin word. Toeriste wil egter met elke besoek iets nuut ontdek.

Die gewone warmwater swembaddens en wildsritte bly die stapel, maar besoekers moet nuwe vermaak gebied word,” het sy gesê.

Feeste en groot byeenkomste sal Bela-Bela en die groter Waterberg-gebied weer ’n hupstoot gee. Die Waterberg moet weer die voorkeur toeriste bestemming word.

Dié knap vrou dra haar entoesiasme en passie vir bemarking en die bevordering van toerisme op ’n tasbare wyse oor. Sy is reeds besig met die beplanning van ’n groot fees wat die Waterberg tot eer en voordeel sal strek.

Related Articles

Back to top button