News

Stories vir plaaskinders uit eie bodem

Jarelank se stories vertel en prente teken om hul kinders se verbeelding aan die loop te kry, het uiteindelik daartoe gelei dat twee vroue van die Springbokvlakte hul eie kinderboeke bekend gestel het.

Retha Weir se boek Plaaskind vertel die stories van haar eie plaasseun wat in die Tuinplaas-omgewing groot word. “My kinders het die voorreg om die plaaslewe te geniet. Die kort stories vertel van die karakter Andries se interaksie met sy omgewing, die skool, maatjies en van sy hoenderboerdery. Ek het stories begin skryf om my eie seun, Andrew, aan die lees te kry.

Hy het dit baie geniet om homself in die stories te herken,” het Weir gesê.

Die boek vertel van die hart van ’n plaaskind, wat met ’n kortbroek kerk toe te gaan en net skoene dra omdat sy ma daarop aandring. ’n Kind wat vas glo as jy vroeg by die skool is, jy drie pouses het.

Die boek, wat geoormerk is vir laerskoolkinders, vertel van zebra-byte, blesboklammetjies hans groot maak en Andries se groot liefde vir visvang.

Weir, wat al lank lief is vir skryf, het verlede jaar aangesluit by INK Skryf in Afrikaans. Tydens hul gala-aand het sy ’n tweede plek behaal in die kategorie vir nuwelinge en twee van haar kortverhale is in hul bundel opgeneem.

“Met die voorblad het ek dadelik gedink Elrita sal my kan help omdat sy so kunstig is.”

Elrita Roos, wat ook op die Springbokvlakte woon en groot geword het, het onlangs haar tweede boek, “Spikkel leer vlieg” uitgegee.

Roos, wat jarelank ’n gr. R-juffrou was, verstaan die hart van klein kindertjies. “Ek het eers die spinnekop se karaktertjie geteken en toe ’n storie daarom gebou. Dit is lekker om vir daardie ouderdom te skryf – prentjies is mos maar hoe hulle op daardie ouderdom ‘lees’ en die storie volg,” het sy vertel.

Dit is haar tweede boek wat sy uitgee. Haar eerste boek was getiteld “Frikkie Vlooi is Ontevrede”. Roos het ook, soos Weir, haar boek self uitgegee deur Groep Sewe.

“Ek het die sketse vooraf op papier gedoen dit daarna digitaal verder geteken.” Sy lag: “Dit is maande se werk om so ’n boek te voltooi.”

“Spikkel Leer Vlieg” vertel van ’n spinnekop se droom om ook te kan vlieg. En hoe die geluk by die ongeluk sy droom bewaarheid.

“Kinders hou van diere en insekte, en hulle glo vas hulle kan praat. Dit voel deesdae asof alle kinderboeke kinders ’n lewensles wil leer. Soms wil ’n mens net lekker lees.”

Roos en Weir is ook besig om saam aan nog ’n kinderboek te werk.

Vir meer inligting oor die boeke, skakel Weir by tel. 082 901 9769 en Roos by tel. 083 778 9324.

Related Articles

Back to top button