News

Ná dae het inwoners weer water

Inwoners in Mookgophong se frustrasievlakke het die afgelope tyd besonder hoog geloop nadat hulle vir twee weke lank met watervoorsiening gesukkel het. Talle huishoudings in die dorp se krane was droog.

Die watervoorsiening is uiteindelik vandeesweek reggestel nadat ’n verstopping in die hooftoevoerlyn verwyder is.

Ná daelange wateronderbrekings in Mookgophong is die sondebok gevind: rommel wat ’n verstopping by ’n kontroleklep in die hooftoevoerlyn veroorsaak het.

Die probleme het ’n lang aanloop met die vorige week se brande by die Frikkie Geyserdam wat onderbrekings in watertoevoer veroorsaak het nadat kraglyne gebrand het. Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het vinnig gewerk en die pale teen die volgende dag 12:00 vervang en die elektrisiteit is herstel. Die waterprobleme het egter voortgeduur.

Voor dit was daar volgens raadslede ’n aanjaagpomp op die stelsel, wat probleme gegee het en weke lank stukkend was. Dit is ook herstel. Ten spyte daarvan dat die reservoirs se vlakke op 67% gestaan het, het inwoners egter steeds gekla dat hulle nie water het nie. Munisipale watertenkers is gereël om water te voorsien en vrywilligers het ook water aangery.

Munisipale spanne het na die fout gesoek en raadslede het op Woensdag 31 Julie herhaaldelik die probleem in ’n raadsvergadering in Mo-
dimolle geopper en daarop aangedring dat dit dringend hanteer word.

Die probleem is einde ten laas opgespoor by ’n kontroleklep in die hooftoevoerlyn. Geroeste blikke, ’n groot stuk geel plastiek, waarin produkte wat in die boubedryf gebruik word, verpak word en ander items het ’n prop gevorm en die vloei van water gestuit.

“Ek was baie ontsteld toe ek dit sien. Dit is mos nie moontlik dat sulke rommel deur die watersuiweringswerke kan gaan nie. Dit is óf moedswillig by die klep ingesit, óf dit het per ongeluk by ’n mangat in die stelsel ingeval,” het DA-raadslid Hercules Louw gesê. “Dit beteken dat daar nog van hierdie materiaal in die ander reservoirs kan wees,” het hy gesê.

“Dit het ’n tyd geneem voordat hulle besef het waar die fout lê omdat die reservoirvlakke gewys het daar is voldoende water vir die aanvraag. Aanvanklik is daar vermoed dat die hoofklep by die reservoir stukkend is, wat baie moeilik sou wees om te herstel omdat dit binne in die reservoir lê en al die water uitgetap sou moes word,” het VF Plus-raadslid Marita Louw gesê.

Die spanne het voortgegaan om na die fout te soek totdat hulle die verstopping in die hooftoevoerlyn gekry het. “Die materiaal wat die pyp verstop het, word gewoonlik deur kontrakteurs gebruik. Ek kan nie glo dat dit regdeur die watersuiweringswerke, kleppe en reservoir tot by die hooftoevoerpyp sou kon beweeg nie,” het sy gesê.

Volgens Louw is die hoogliggende dele van die dorp, onder andere Gholfpark, wat van die hooftoevoer af water ontvang, die meeste geraak deur die probleme.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button