News

Trio Events bied weer ’n treffer Ekspo aan op Sondela

Sonder musiekvervaardigers, sal bitter min musikante ooit ’n deurbraak maak in die musiekbedryf.

’n Briljante musiekvervaardiger kan van ’n nuwe kunstenaar ’n huishoudelike naam maak.

Op die onlangse kykNet Buite Ekspo, wat vanaf 26-28 Julie by Sondela-natuurreservaat en Spa, buite Bela-Bela, gehou is, het Die Pos die voorreg gehad om met ’n bekende musiekvervaardiger te gesels en bietjie agter die kap van die byl te kom.

Werner Beukes van Kaapstad, is ’n onafhanklike musiekvervaardiger wat hom toespits op die Pop- en Country-musiek genres. Hy het die kunstenaars wat op die Expo-verhoog opgetree het, kom ondersteun. Hy het al met bekende kunstenaars in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gewerk soos, Fredi Nest, Manie Jackson, Nicholis Louw, Ray Dylan, Steve Hofmeyr, en Leon Schuster.

Beukes is self ’n formidabele musikant en liedjieskrywer en is al 33 jaar in die bedryf. Hy het op sewejarige ouderdom in die voorprogram van Bles Bridges opgetree.

Hy weet dus hoe moeilik dit vir opkomende kunstenaars kan wees om bo uit te kom.

Hy het dit sy doelwit gemaak om jong kunstenaars te ondersteun terwyl hul die moeilike leer na sukses klim. Self het hy al verskeie SAMA toekennings, multi-platinum-, platinum-, en goue-toekennings vir sy werk verwerf.

Hy het ’n groot aandeel gehad in die vervaardiging van die gewilde liedjie ‘Meisie van Follow the Sun’, van Sonè Joubert, ’n oud-inwoner van Bela-Bela wat in 2018 vir haarself naam gemaak het met die reeks, The Voice, waarin sy tweede geëindig het.

Nog ’n bekende van Bela-Bela met wie hy saamwerk is Fatman ofte wel Johan Brummer, wat baie jare musiek onderrig het by Hoërskool Warmbad.

Beukes sê hy het ’n baie sagte plek vir Leon Schuster, met wie hy al baie nou saamgewerk het, en sê dat Schuster in 2019, na die afsterwe van Beukes se vader, aangebied het om die plek van sy pa vol te staan.

Saam het hulle twee gewerk aan ‘Die Bok Masjien’, en ‘Hier-Kommie-Cheetah’.

Die kunstenaars met wie hy saamwerk is nie almal van Suid-Afrika nie. Hy het onlangs saam met Jordan Pickett, van Noord-Carolina in die VSA gewerk. Pickett is ’n bekroonde kunstenaar en het reeds drie Carolina Country Music Awards (CCMA) gewen.

Beukes sê daar is nog baie onontginde talent in die Suid-Afrikaanse, en veral die Afrikaanse musiekbedryf.

Hy het ook gesê dat nuwe musiektalent wat dopgehou kan word, is Renier Greeff, Die Rooiwyn Profeet, Reinhardt Summers en Jo-Mari Malan.

Related Articles

Back to top button