News

Taboets is ’n bielie van ’n bul!

Wanneer ’n ses jaar oue bul, R900 000 op ’n veiling haal, dan weet jy daar is niks fout met jou kudde se bloedlyn nie.

Vir Johannes (Wors) Prinsloo van die Jolopahe Boran-stoetery in die Settlers-omgewing was dit maar ’n effense hartseer afskeid van sy bul, Taboets, wat op die nasionale Boran-veiling op Parys, in die Vrystaat vir hierdie bedrag verkoop is.

Dit was die heel eerste keer dat hy aan die veiling wat jaarliks in Parys gehou word, deelgeneem het, en Prinsloo sê hy was baie verbaas om ook ’n prys te wen vir die hoë bod wat sy bul behaal het.

Taboets is deur Prinsloo self geteel en afgesien van die besonderse voorkoms van hierdie formidabele dier wat so ’n goeie prys behaal het, is Prinsloo nog meer in sy noppies oor sy vers, Taboets se dogter, wat op dieselfde veiling vir R400 000 verkoop is.

Prinsloo het in 2005 sy Boran-stoetery begin en het sy kudde opgebou vanuit die simbrakoeie wat hy in daardie stadium mee geboer het. Sy stoetery het gegroei tot waar hy vandag oor nagenoeg 200 groot beeste en ongeveer 50 kalwers en verse beskik. Die bloedlyn is so gewild dat hy al navrae vanuit Tanzanië, Kenya, Zambië en Zimbabwe gekry het om van dié saad te bekom.

Volgens Prinsloo is Boran-beeste die ideale ras om mee te boer. Hulle is ’n baie geharde ras en vir ’n medium raam bees tel hulle besonder goed gewig op. Hulle is geskik vir melk- en vleisproduksie.

Die ras het sy oorsprong by die Masai-volk in Tanzanië. Die diere word baie mak en is maklik om te hanteer.

Sedert die veiling het Prinsloo baie navrae gehad na saad vir kunsmatige inseminasie (KI) doeleindes. Taboets is ’n uitsonderlike dier, wat al reeds in sy derde jaar ’n kalf gelewer het. Hy het baie goeie gene en veral sy pote is baie geskik vir die turf grond, waarop Prinsloo boer.

Om so ’n stoetery suksesvol te bedryf is egter baie intensief en Prinsloo is dankbaar vir sy vrou, Louisa, wat sy administrasie en ook die kunsmatige inseminasie-afdeling se rekordhouding behartig.

Die volgende groot Boran-veiling wat op hom wag, is die Limpopo Boranklub-veiling, wat op Vrydag, 19 Oktober in Bela-Bela gehou word.

Related Articles

Back to top button