News

Moordsaak: dit is hoekom die hof só besluit het

Die onlangse hofuitspraak wat Chrisna van der Merwe vrygespreek het, ná haar man Botes se skietdood in hul huis in 2018, het hewige reaksie onder talle inwoners uitgelok. Vir baie was dit ’n uitgemaakte saak dat Van der Merwe skuldig is, omdat hulle vas oortuig was dat al die bewyse die vinger na haar toe gewys het.

Die regstelsel het egter ’n proses wat nougeset gevolg moet word, voordat ’n skuldig bevinding kan plaasvind. Dié regsprosesse is dikwels duister vir Jan Alleman.

Chrisna en Botes van der Merwe voor sy dood. Foto: Verskaf.

Die Pos het gaan aanklop by plaaslike regsman, Gerhardt Breytenbach, wat die geleentheid gehad het om die saak met van die regsverteenwoordigers vir die verdediging te bespreek.
Die saak in kort:

Van der Merwe is in die hooggeregshof in Polokwane aangekla op klagtes van moord en diefstal, na ’n skietvoorval in hul huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle op 11 Desember 2018.

In die voorval is haar man dood nadat hy skietwonde opgedoen het, en Van der Merwe is in ’n ernstige toestand in ’n Pretoria-hospitaal behandel na ’n skietwond in haar maag. Die egpaar het die aand saam met Botes se dogter uit ’n vorige huwelik en ’n vriendin gekuier, voordat die egpaar kamer toe is. Botes se dogter het klapgeluide vanuit hul kamer gehoor en ondersoek gaan instel.

Sy het haar pa dood op die badkamervloer aangetref. Mediese hulp is vir Van der Merwe ontbied en sy was ’n ruk lank in ’n koma. Sy het gedurende haar hofverskyning volgehou dat sy nie die gebeure kon onthou nie, weens geheueverlies.

Die hooggeregshof in Polokwane het Van der Merwe vrygespreek op klagtes van moord en diefstal. In haar uitspraak was die regter baie krities teenoor die staat se ondersoek van die saak.
Kritiek teen regstelsel: Breytenbach het die volgende rakende die saak geskryf:

Die ongelukkige gebeure rondom die dood van die oorledene en die gevolglike vryspraak van die beskuldigde is die onderwerp van baie bespiegelinge in die pers en sosiale media wat nou ook vel kritiek teen die regstelsel tot gevolg het. Ek het baie begrip vir die emosionele reaksie en kommentaar.

Dit is waar dat ons regstelsel tans onder druk verkeer en die geweldige toename in sake wat na die appèlhof in Bloemfontein en die Konstitusionele Hof verwys word, is aanduidend daarvan dat uitsprake van howe al hoe meer en dikwels tereg bevraagteken word. In hierdie moordsaak het ek die kans gehad om die saak met een van die regsverteenwoordigers vir die verdediging te bespreek wat vir my die uitspraak, soos dit in die pers berig was, meer in konteks geplaas het.

Eerstens moet in gedagte gehou word dat, behalwe vir die oorledene en die beskuldigde, daar geen ander ooggetuies was nie. Die polisie se ondersoek was dus beperk tot die toneel wat gewoonlik na verwys word as omstandigheidsgetuienis. In sake waar daar op omstandigheidsgetuienis gesteun word, is seker van die moeilikste sake vir die Staat om te bewys omdat daar ’n baie fyn lyn tussen konkrete feite en spekulasie is, met ander woorde wat is konkrete feite en wat is feite wat eintlik maar spekulasie is?

Omstandigheidsgetuienis het gewoonlik tot gevolg dat die Staat ’n teorie oor gebeure vorm wat deur die omstandigheidsgetuienis gestaaf word. Die gevaar is dan altyd dat wanneer daar tydens die getuienis gate in die teorie val, dan val die Staat se saak.

Te veel mense betree toneel:
Sonder om in detail in te gaan, verstaan ek dit is wat onder andere in hierdie saak gebeur het. In dié verband het die hof veral die beskerming van die misdaadtoneel bevraagteken. Die misdaadtoneel was gekontamineer deurdat te veel persone die toneel betree het.

Gemeenskapsorganisasies soos AfriForum hou gereeld inligting sessies saam met die polisie oor misdaad en misdaadtonele en telkemale pleit die polisie by die gemeenskap om nie sondermeer ’n misdaadtoneel te betree nie omdat dit die polisie ondersoeke geweldig belemmer.

Voorts het verskeie deskundiges vir en teen die Staat getuig en was die hof genoodsaak om baie op hierdie deskundige getuienis te steun om uiteindelik by ‘n bevinding te kom.
Die hof se bevinding was dat die omstandigheidsgetuienis nie die teorie van die Staat gesteun het nie en moes die Staat op stadiums toegee dat deskundige getuienis wat deur die verdediging aangebied was, die feite en teorie waarop die Staat gesteun het, weerlê.

Die hof se bevinding was dat die Staat nie die skuld van die beskuldigde bo redelike twyfel bewys het nie.

Hierdie maatstaf wat in die strafreg gebruik word, is ’n eeu-oue beginsel wat oor baie jare heen in die bewysreg ontwikkel het. Hierdie beginsel behels dat ’n Hof, in oorweging van al die objektiewe feite voor die hof, ’n persoon slegs kan skuldig bevind indien daar nie twyfel is dat die beskuldigde moontlik onskuldig kan wees nie. As die hof twyfel dat die beskuldigde moontlik onskuldig kan wees, dan moet die hof die voordeel van die twyfel vir die beskuldigde gee.

Ter illustrasie van hierdie bewyslas beginsel is daar dan ook ’n gesegde in die strafreg: Eerder tien skuldige mense op straat as een onskuldige persoon in die tronk.
Dit kan dalk kras klink, maar môre word ek of jy dalk vir ’n misdaad aangekla op grond van beweringe en teorieë en dan gaan ek en jy staatmaak op die toepassing van hierdie beginsels om te verhoed dat ek of jy onskuldig tronk toe gaan.

Elke beskuldigde het die reg om op hierdie beginsel staat te maak, ongeag die vooroordeel van toeskouers en kommentators wat oornag regsdeskundiges geword het.
Hierdie saak het net slagoffers, maar ter wille van almal betrokke, dink ek dit is baie onbillik om summier te oordeel, te blameer of die regstelsel af te kraak. Die polisie het gebruik wat hulle tot hulle beskikking gehad het, die Staat het die saak gevoer met dit wat die Staat tot sy beskikking gehad het en die verdediging het die saak verdedig op die regsbeginsels en deskundige getuies tot die verdediging se beskikking.

Op die einde moes die hof alles oorweeg en ’n beslissing aan die hand van die reg gee.
Niemand kan oortuig word om daarmee saam te stem nie, maar die uitslag behoort minstens gerespekteer te word.

Related Articles

Back to top button