News

Brande saai verwoesting op die Springbokvlakte

Ons is nou in daardie tyd van die jaar, met die droë winterseisoen, wanneer veldbrande baie skade kan aanrig. Boere op die Springbokvlakte kon ook nie dié lot vryspring nie.

Brande wat al meer as twee weke in die omgewing woed, het al nagenoeg 5 000 ha. weiding vernietig.

Volgens Paul Bester wat in die Mantsole-omgewing boer, is die vermoede groot dat hierdie brande kwaadwillig gestig word, maar geen konkrete bewyse kon tot dusvêr daarvoor gevind word nie.

Hy sê dat al die weiding op die grond langs die N1-snelweg, vanaf Mantsole-weegbrug tot by Pienaarsrivier, verwoes is. Dit is ’n groot slag vir die boere in dié omgewing.

Bester het sy lof en waardering uitgespreek vir die gemeenskap wat saam staan en onverpoosd brande beveg. Die Radium-noodgroep het ook dadelik gedurende die dag en nag hulp verleen.

Volgens hom was die week van 15 tot 18 Julie die ergste tot op datum. Ander plase in die omgewing van onder andere Peter Mc Cord en Elandskraal het ook groot skade gely.

Die gemeenskap bly op bystand en is gereed indien daar nog brande sou uitbreek. Die verlies van weiding maak sake moeilik vir die boere wat beeste en wild op hul eiendom het. Die boere sal ekstra koste moet aangaan met die huur van addisionele weiding en of die voer van hul kuddes.

Groot probleme word voorsien indien die brande teen hierdie tempo voortduur.

Related Articles

Back to top button