News

Groot boom kantel geruisloos

Wanneer ’n groot boom val in ’n woud, word die son vir ’n oomblik deurgelaat, en alles wat die groot reus beskerm het, en die klein wonderwerke wat dit verskans het, word vir een glorieryke oomblik in sonskyn gehul, vir die hele wêreld om te sien.

Ons besef die verlies is groot, maar die nalatenskap is soveel groter. Met die afsterwe van geliefdes wat voluit geleef het, is dit presies dieselfde.

Op Sondag 7 Julie, het die gemeenskap van Bela-Bela so ’n groot boom verloor. Adrie Pelser (73), jare lange inwoner van Bela-Bela het sy stryd teen kanker gewonne gegee. Bekend as ’n stadsingenieur van hoogstaande gehalte wat in 1983 by die plaaslike munisipaliteit begin werk het, word deur familie, en vriende onthou as ’n omgee mens, ’n familieman by uitstek, en lojale vriend, wat alles wat hy aangepak het met volle oorgawe gedoen het. Geen uitdaging was vir hom te groot nie.

Jare lange vriend, en kollega, Vleis van Zyl onthou hom as ’n diep denkende filosoof, maar wat altyd ’n praktiese plan kon maak vir uitdagings wat kon opduik. Hy onthou nog die dag in die 80’s toe Pelser die heel eerste rekenaar by die munisipaliteit ingebring het. Hy vertel hoe hulle twee nagte omgesit het en self geleer het hoe werk die programme. Hulle het begin met twee sagte diskette (floppies), en was verstom oor die tegnologiese wonders van ’n 386- en 486-rekenaar, en het hulle vergaap aan die verbysterende spoed waarteen hierdie rekenaars kon funksioneer.

Hulle het meesters geword van DOS-programme, en toe Windows te voorskyn kom, het Pelser besluit hulle weet vir eers genoeg.

Hy was alles, van onderwyser, stadsingenieur, konsultant, tekenaar, stoker, en vanaf 2000 –2006 selfs ’n raadslid van Bela-Bela-munisipaliteit.

Met grade in dierkunde, bodemkunde, en geologie sou mens dink dit was genoeg. Met sy versugting na meer kennis het hy hom aan die Potchefstroomse Universiteit ingeskryf vir ’n graad in die regte. Hy het slegs een vak (Engels) nie voltooi, om die graadkursus met sukses af te lê nie.

Hy was ook die kundige na wie die huidige amptenare uitreik as hul planne, dokumente of kundige raad nodig het.

Saam met sy gesin en vriende het hy graag gaan kamp en het hul op die mees afgeleë plekke dikwels tent opgeslaan en in die natuur vakansie gehou. Hy en sy vrou Rona, met wie hy in 1974 getroud is, het dikwels ook oorsee gereis en hul horisonne verbreed. Maar sy heimat was in die natuurskone Suid-Afrika.

Van visvang kon jy hom niks leer nie. Hy het graag saam met die manne gaan jag en was hy aangewys as die kamp-kok aangesien hy nie diere wou skiet nie.

Hy word onthou vir sy skerp sin vir humor, en in antwoord op ’n vraag, wat sowat ’n jaar gelede aan hom gestel is: Wat is die interessantste ding wat jy al gedoen het, het hy sonder om te huiwer geantwoord, “Die lewe!”.

Adriaan Pelser, laat sy vrou Rona, drie dogters Ronè le Roux, Estè Pelser, en Tiani Breedt, en vier kleinkinders, Hendrik, en Karoley le Roux, en Zoey, en Emma Breedt agter.

Related Articles

Back to top button