News

Onskuldig: hof spreek vrou vry op moordklag

Chrisna van der Merwe, wat daarvan aangekla was dat sy haar man Botes, in Desember 2018 in hul huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle, doodgeskiet het, is deur die hooggeregshof in Polokwane vrygespreek op klagtes van moord en diefstal.

Die uitspraak in hierdie opspraakwekkende saak het talle inwoners onkant gevang.

Die tragedie het op 11 Desember 2018 in die egpaar se slaapkamer afgespeel nadat hulle vroeër die aand saam met Botes (48) se dogter uit ’n vorige huwelik, Celiné en haar vriendin, Amanda van Deventer gebraai het.

Nadat hulle die aand kamer toe is, het Celine en Van Deventer skote, wat Celiné in die hof beskryf het soos klappers geklink het, gehoor. Verskeie skote is afgevuur, waarna daar glo ’n stilte was en nog ’n skoot gevolg het.

Hulle het ondersoek gaan instel en haar pa (48) dood in ’n plas bloed op die egpaar se badkamervloer aangetref. Hy is twee keer geskiet. Van der Merwe het met ’n skietwond aan haar maag in die slaapkamer gelê.

Daar is onmiddellik hulp ontbied. Van der Merwe is in ’n ernstige toestand eers na die Phodi Clinic in Bela-Bela geneem, waarna sy per helikopter na die Unitas-hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.

Die hof het gehoor dat van die eerste mense wat op die toneel was, die twee wapens op versoek verwyder het uit vrees dat nog skote geskiet kon word. Ook die paramedici wat na Van der Merwe omgesien het, het glo gevra dat die wapens verwyder word. Dit is later op versoek van die polisie weer terug geplaas waar hulle dit gevind het. Beide Botes en Chrisna het 9 mm-pistole besit.

Een van die polisiebeamptes het in die hof getuig dat hy een vuurwapen langs die bed gekry het asook ’n bloedspoor tot by die klerekaste.

’n Polisiebeampte wat verbonde is aan die forensiese laboratorium het getuig dat sewe skote uit Van der Merwe se wapen gevuur is en een skoot vanaf die wapen wat aan Botes behoort het.

Van der Merwe het in die hof getuig dat sy en die oorledene ’n goeie huwelik gehad het, maar dat hy in die laaste jaar gewelddadig geraak het, met een groot voorval ses maande vantevore.

Sy het gesê dat sy nie kan onthou wat gebeur het nie as gevolg van geheueverlies. Geen van die gewelddadige voorvalle is ooit by die polisie aangemeld, of aan familie of vriende genoem nie.

Sy het gesê dat sy eers weer haar bewussyn herwin het in die hospitaal en ontken dat sy die oorledene geskiet het. Die staat se getuies het haar bewering van geheueverlies in twyfel getrek, hoewel ’n sielkundige vir die verdediging getuig het dat sy geen teken gevind het dat die geheueverlies nie eg is nie.

Die verdediging het prof. Gert Saayman, ’n forensiese patoloog as getuie geroep. Hy het sy kommer uitgespreek omdat daar nie ’n behoorlike beskrywing van die oorledene se wonde gegee is in die verslae nie. Hy kon nie bevestig of Van der Merwe haar maagwond self toegedien het al dan nie.

Die verdediging het aangevoer dat die staat nie bo alle twyfel kon bewys dat Van der Merwe haar man met opset geskiet het nie.

In haar uitspraak het regter Karin Leanne Pillay die staat se saak teen Van der Merwe gekap en gesê dat talle aspekte daarvan onvolledig is. Sy het onder andere gesê dat die forensiese ondersoek swak gedoen was en dat hul nie eers gevaarlint gebruik het om die toneel af te sper en sodoende te bewaar vir die ondersoek nie. Geen bloed is ook vir DNS-toetse gestuur nie.

Karin van Eck, ’n prokureur, adv. Piet Pistorius en dr. Llewelyn Curlewis het vir die verdediging opgetree en adv. Nkhetheni Munyai vir die staat.
Botes se dogters, Celiné en Jané, het die hofverrigtinge bygewoon.

“Die hof het bevind dat die bewyse wat deur die staat voorgelê is, nie Van der Merwe se skuld bo alle twyfel bewys het nie en dat niemand weet wat tussen die oorledene en die beskuldigde gebeur het nie, want dit was net hulle twee in die kamer.

Die hof het verder bevind dat daar nie bo alle twyfel bevind kan word dat die beskuldigde intensioneel en onwettig opgetree het nie.

Die bewyse wat voorgelê is, kon ook nie bewys dat daar nalatigheid betrokke was nie. Daarom het die hof die beskuldigde nie skuldig bevind nie,” het Mashudu Malabi-Dzhangi, die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in Limpopo, aan Die Pos gesê.

Die diefstalklag teen Van der Merwe het gevolg nadat ’n bedrag van R114 000 uit haar man se rekening op 21 Desember onttrek is. Sy is ook nie op die klag skuldig bevind nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button