News

Eggo’s van Hollywood weergalm in die Bosveld

Vanaf Randfontein tot Sunset Boulevard in Hollywood. Vir baie van ons klink Hollywood soos ’n sprokieswêreld.

Die Pos het die voorreg gehad om met Neil Sandilands op te vang tydens sy Land & Sand-musiektoer, in Mookgophong.

Neil Sandilands, is een van die Suid-Afrikaanse akteurs wat vir homself naam maak in Hollywood, en hy is onlangs benoem vir ’n Emmy-toekenning vir sy vertolking van die rol van Genl. Abbot, in seisoen twee van die Netflix trefferreeks, Sweet Tooth.

Hy vertel sy liefde vir musiek, en om ander te vermaak het op ’n vroeë ouderdom begin toe sy talent as ses jarige raakgesien is. Hy het in sy eerste skooljaar in 1982 tydens ’n revue van die

Laerskool Randfontein die gehoor bekoor toe hy Haak Hom Blokkies van David Kramer gesing het. Hy erken dat Kramer se musiek ’n groot invloed op hom gehad het. Hy het vroeg in sy loopbaan besef Suid-Afrika is uniek, en ’n mens kan jou eie identiteit skep, sonder om bang te wees vir waar jy vandaan kom.

Sy musiektalent was vir lank agter gelaat terwyl hy besig was met teater en TV-werk. Sy eerste TV-rol was in 1989 op 15-jarige ouderdom, toe hy die rol van ’n penkop genaamd Bertus Conradie in die reeks, Meester, vertolk het.

Hier is hy blootgestel aan van die groot geeste in die Suid-Afrikaanse teater- en filmbedryf, soos Wilson Dunster, Jannie Gildenhuys, Neels Coetzee, en Elize Cawood. Meester is opgevolg deur nog ’n monumentale Afrikaanse-reeks, Konings, waarin hy die rol van ’n jong Dolf Groenewald gespeel het, en met sy mentor, Kobus Rossouw (snr.) te doen gekry het.

Drama het hom in verkeie rigtings geneem, totdat hy in 2000 op die stel van die Afrikaanse sepie, 7de Laan beland het. As Bart Kruger, die Deli-eienaar, het hy in talle kykers se harte gekruip. Hy sê dit is eintlik jammer dat ná amper 25 jaar die publiek nog steeds na hom verwys as Bart van 7de Laan, ondanks al sy latere prestasies, soos sy gunsteling rol as Zatopek van Heerden in die reeks Orion, en rolle in internasionale produksies soos House, The 100, Hap and Leonard, Flash.

Hy het ook al saam met groot name in die filmbedryf gewerk soos Tom Hanks, Eric Roberts, en James Purefoy.

Sandilands sê dit is harde werk om sukses te behaal in die uitvoerende kunste en hy voel hy het veel meer gegroei as om net as Bart bekend te wees.

Dit is dalk ook hoekom dit makliker was vir hom om te begin musiek maak.

Hy het as eksperiment besluit om self sy karakter, Freddy Fingers Greyling, in die reeks Desert Rose in 2022 se musiek te skryf, en te sing.

Hy het juis die stap geneem sodat hy die karakter as werklik kan vertolk.

“Dit het gelei tot drie liedjies, toe vyf, toe sewe, en daar sit ons met ’n album. Dié album word toe benoem vir ’n Suid-Afrikaanse musiektoekenning,” vertel hy met ’n glimlag.

Alhoewel hy voel dat musiek, en drama moeilik geskei kan word, gee hy voorkeur aan musiek. Van die twee kunsvorms voel hy staan musiek die sterkste, en is ook die een wat heeltemal op sy eie kan staan. “Jy kan nie vir jouself ’n monoloog opsê nie, maar jy kan vir jouself sing.”

Met die Land & Sand-toer reis hy met sy unieke musiek, saam met bekroonde kunstenaars, Schalk Joubert (bas kitaar), Ronan Skillen (dromme), en Freddy Freeman (kitaar), landwyd, en bring sy musiek na diverse gehore. Dit is deel van sy stigtingsproses, om vir veral die Afrikaanse gemeenskappe te wys waartoe Afrikaans in staat is.

Wat Neil Sandilands se film, en TV werk aanbetref, is hy tans by ons te sien as Koro, in Kingdom of the Planet of the Apes, en as sy toer op Sondag, 4 Augustus ten einde loop, vertrek hy na Los

Angeles vir die verfilming van sy nuutste projek – The Surrender.

Hou gerus hierdie Suid-Afrikaanse ikoon dop.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button