News

Aanlynbedrog onder die vergrootglas

Sowat 135 mense het ’n bewusmakingsdag oor aanlynbedrog op Woensdag 10 Julie by die AGS-gemeente in Mookgophong bygewoon. ’n Soortgelyke dag is ook by Die Oog-aftreeoord gehou.

Die Mookgophong-polisie het versoek dat hulle inwoners wil inlig oor die bank-, selfoon- en e-posbedrog waaroor talle klaers by die stasie opdaag.

Antoinette Wagenaar, ’n DA-raadslid, sê dat veral bejaarde persone deurloop.

“Baie mense is te gretig om te antwoord op boodskappe wat aan hulle gestuur word, en dink sake nie mooi deur nie.

As jy ’n boodskap kry dat jy ’n bedrag geld moet betaal vir die versending van ‘n pakkie, maar jy het nooit iets bestel nie, is daar fout,” het sy gesê.

Sy waarsku egter dat selfs persone wat goed met rekenaars vertroud is, deurloop. ’n Inwoner het ’n oproep ontvang wat sy besonderhede vra, maar die selfoonoproep het uitgesny.

Hy het lont geruik en onmiddellik bank toe gery en kon ’n transaksie van R100 000 op sy rekening betyds stop.

“Daar het onlangs twee vroue binne minute van mekaar af met dieselfde klagte by die polisiestasie opgedaag. Die bedrieërs gebruik bangmaakstories om ons te kry om te reageer en koppel dit aan gebeure/mense wat ons ken. Soos dat daar probleme is met jou Netflix-rekening.

Ek self het ’n aantal boodskappe gekry dat Standard Bank my aan die kredietafdeling gaan oorhandig indien ek nie ’n oorbetaling maak nie – maar ek het nie eers ’n Standard Bank-rekening nie!”

Sy raai mense aan om nie op sulke boodskappe te reageer nie.

“As jy bekommerd is, ry na jou bank toe of skakel hulle direk.”

Related Articles

Back to top button