News

VLU vereer Kotie

Kotie Wagner, wie almal weet se hande vir niks verkeerd staan nie, is onlangs deur die Vroue Landbou-unie (VLU) bekroon vir haar puik handewerk.

Wagner, wat reeds 40 jaar ’n lid van die VLU Warmbad-tak is het aan ’n intertak-kompetisie deelgeneem en ’n spesiale prys van die VLU-Noord-kongres (Limpopo) verwerf vir haar gehekelde inkopiesak.

Die inkopiesak wat Wagner gehekel het, en waarvoor sy haar prys gewen het.

Sy het aan Die Pos gesê dat sy die inkopiesak met Colour Spun se hand gekleurde materiaal gemaak het wat sy in Yzerfontein aangekoop het.

Die pragtige inkopiesak sal nou tydens die VLU se nasionale kongres vir beoordeling voorgelê word en die lede in die noorde hou styf duim vas dat een van die vroue uit eie geledere met ’n nasionale prys bekroon sal word.

Lede was dit eens dat hierdie pragtige inkopiesak enige vrou se uitrusting sal komplimenteer en die inkopie-tog aangenamer maak.

Lesers kan gerus op Colour Spun Creative Community se Facebookblad gaan kyk, waar hul Wagner se inkopiesak geplaas het.

Related Articles

Back to top button