News

Vlieëniers spog met hul vlerke

Die lugruim bo Bela-Bela was die afgelope naweek ’n miernes van bedrywighede. Die gedreun van vliegtuie en helikopters het inwoners kort-kort in die lug laat staar.

Die South African Power Flying Association (SAPFA) het op Saterdag, 29 Junie, ’n groot spoedren (Speed Rally) by die Warmbad-vliegveld, buite Bela-Bela aangebied.

Mike George besig om die 1947 North American L-17 Navion, na te gaan.

Die SAPFA-byeenkoms is reeds in sy sesde seisoen en Warmbad-vliegveld was hierdie jaar die bymekaarkom plek van lugvaart entoesiaste, na die eerste been van die gesogte byeenkoms.
’n Spoedren, of soos dit alom bekend staan as ’n ‘speed rally’, toets die navigasie vermoë van vlieëniers, en die wenner is die vlieënier wat die gemerkte roete, in die kortste moontlike tyd, oor die kortste afstand kan vlieg.

Besoekers kon hul Saterdag verlustig in die versameling vliegtuie en helikopters wat hier te siene was. Vir diegene wat nog deel was van die Bosoorlog of militêre diensplig voltooi het, was daar historiese legendes soos die verskeie weergawes van die Aermacchi AM.3, beter bekend aan Suid-Afrikaners as die ‘Bosbok’, wat deur die Suid-Afrikaanse Lugmag ingespan is in die verkennings, en observasie rol, tydens die oorlog in Angola.

Willem Kruger van Marble Hall, en sy seun Willem (jnr.), was al te gewillig om hul pragtige weergawe ten toon te stel, alhoewel hulle op pad was na die Botha Shellhole-lugskou, in Polokwane.

Nog ’n pragtige gerestoureerde vliegtuig wat bo al die ander uitgestaan het, was beslis die 1947 model, North American L-17 Navion, met sy blink gepoleerde aluminium bakwerk. Mike George wat hierdie vliegtuig gerestoureer het, sê dat dit ’n span van drie tussen 150 en 200 ure geneem het om die bakwerk so blink te kry en die kliënt hou dit so deur dit gereeld te laat poets.

Nog historiese voorbeelde was twee Allouette-helikopters, ’n rooi Alouette 2, en sy groter boetie, ’n swart Alouette 3, beide hierdie helikopters is soortgelyk aan die wat diens gedoen het in die destydse Suid-Wes Afrika/Angola konflik. Die Alouette 3 is ook gereeld deur die Suid-Afrikaanse Lugmag in reddingsoperasies gebruik veral in die ruwe Drakensberge, en na ernstige vloede.
Maar daar was nie net veteraan vliegtuie nie. Daar was ook pragtige nuwe vliegtuie met twee groot motore en selfgeboude kleiner vliegtuie wat soos muggies teen die ander lyk.
Daar was meer as honderd vliegtuie wat vanaf Vrydag al kom staan maak het op die vliegveld, en danksy Braam van der Merwe en die koördineerders, was parkeer-
spasie geen probleem nie.

Die volgende byeenkoms is op Saterdag, 3 Augustus in Groblersdal, en die spoedren eindig op Saterdag, 14 September te Baragwanath, in Gauteng.

Related Articles

Back to top button