News

Staatmaker groet Die Pos-span

Daar is nie baie mense in die land wat ’n mylpaal met Nelson Mandela kan deel nie, maar Willie Nel van Die Pos is een van hulle.

Terwyl Madiba vir 27 jaar in die gevangenis was, het Willie Nel se passie hom vir 27 jaar ‘gevange’ gehou by Die Pos.

Vir Willie was dit egter nie ’n straf nie, en het hy uitgesien om elke dag se nuwe uitdagings aan te pak. Maar hierdie pad het nou ’n vurk gemaak en hy begewe hom nou op ’n onbe-
kende roete, waar nuwe horisonne vir hom en sy gesin wink.

Hy het op Vrydag 28 Junie Die Pos se diens verlaat en sluit hom aan by die Northern Media-groep, in Polokwane, wat ook, soos Die Pos, deel is van die Caxton Mediahuis.

Nel is in Natal gebore, en het in 1995 daar matriek geskryf. Kort daarna het hy na Bela-Bela (toe nog Warmbad) verhuis, en sy eerste pos, as kelner by die plaaslike Spur-restaurant begin.

Volgens hom was dit in daardie stadium die tweede grootste Spur in Suid-Afrika gewees. Hy het geloseer by Lourens Kotze van Hout is Goud. Kotze het gou gesien dat die jong man baie kunstig is en het van sy spotprente wat hy sonder moeite, geteken het aan Danie Stoltz, destydse redakteur van Die Pos gewys.

Stoltz was baie beïndruk met Nel se werk, en Nel het in Augustus 1996 begin om die Kloek-strokiesprente vir Die Pos te skets.

Met Nel se amptelike indiensneming by Die Pos as ’n voltydse werknemer, was hy nie baie bedrewe met die rekenaar nie.

“Ek het regtig nie eers geweet waar sit ’n mens die masjien aan nie,” skerts Nel. Jean Cronjé, het toe Die Pos se bladuitleg behartig. Hy het inderhaas voor sy vertrek, vir Willie die basiese opleiding gegee in bladuitleg. Hy het op die harde manier die fyner kuns van bladuitleg geleer en het ’n in diepte studie gedoen van ander publikasies se bladuitleg en nuwe tendense.

Met die verkoop van Die Pos in 2001 het sy nuwe werkgewers, Keina Swart en Bea Emslie, nie gehuiwer om hom as die hoof van die afdeling aan te stel nie. In die 27 jaar het sy pligte ook uitgebrei na hoof van bemarking en was hy verantwoordelik vir al die advertensie ontwerpe wat weekliks in die koerant verskyn het.

Dié pos het hy met ywer en verantwoordelikheid behartig tot die laaste dag.

Willie se werk het baie goed vergelyk met van die groot media-huise en hy het by meer as een geleentheid toekennings gewen.

Hy is in 2023 aangewys as die Beste Bladuitleg-kunstenaar in die Caxton-groep. Maar die nederige man wat hy is, het dit stil gehou. Dit was eers toe die redakteur kennis kry van die prysuitdeling wat sy kollegas gehoor het dat hy vereer is.

Hy het aan Die Pos gesê dat hy baie hartseer is om die dorp, en die gemeenskap, waarvoor hy so lief geword het, te verlaat, maar hy is baie opgewonde oor die nuwe uitdagings wat op hom wag in Polokwane.

Hy het belowe om nog gereeld in die Sonskyn-dorp en Die Pos te kom kuier aangesien sy skoonouers en ander familie nog hier woon.

Sy vrou Makkie en die twee kinders bly vir eers agter in Bela-Bela en sal hul einde November by hom aansluit in Polokwane.

Willie se Pos-familie het hom op Donderdag 27 Junie tydens ’n privaat afskeidsgeselligheid gegroet. Die trane het gevloei en almal is dit eens: Hulle gun hom die nuwe pos, maar hul weet dat hy ’n groot leemte laat in Die Pos–‘familie’.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button