News

Landbouliefhebbers is positief oor Steenhuisen as nuwe minister

Daar heers versigtige optimisme in plaaslike landbou-geledere ná die aanstelling van die DA-leier, John Steenhuisen as die minister van landbou hierdie week.

Hy is aangestel in die plek van Thoko Didiza, wat aangewys is as die speaker van die Nasionale Vergadering.

Rosemary Capa (ANC), is aangestel as adjunkminister. Sy het ook voorheen in die pos gedien.

Die departement landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming is verdeel in twee departemente, met Mzwaneel Nyhontso van die PAC wat as die minister van grondhervor-
ming en landelike ontwikkeling aangewys is met die voormalige Limpopo Premier Stanley Mathabatha as sy adjunk.

Volgens Hendrik Botha, voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie en Roedtan-Suid Boerevereniging, kan boere nie anders as om opgewonde te wees oor die aanstelling van Steenhuisen nie.

“In Suid-Afrika waar ons boere moet kos en vesel produseer, het sake vir ’n paar dekades baie anders gelyk as by ons kompeterende eweknieë in die buiteland. Vir jare moes ons boere toekyk hoe ekonomiese beginsels in die beleidsomgewing moes plek maak vir ’n vernietigende sosialistiese rasse-ideologie,” het hy gesê.

“Drie hoofsake wat ons boere ernstig bedreig en drasties aangespreek sal moet word gedurende Steenhuisen se termyn as minister sluit in plaasveiligheid, misdaad op plase ten opsigte van diefstal van ons produkte en die skep van ’n gunstige markomgewing sodat boere winsgewend voedselsekerheid kan bewerk.

“Vir ’n boer is die volgende seisoen altyd ’n goeie jaar om na uit te sien. Ons sien met verwagting uit na John Steenhuisen se termyn as minister. Ons glo dat hy die skietgoed in sy mondering het om ’n groot sukses te maak. Ons hoop egter dat sy hande nie agter sy rug vasgemaak sal word deur ideologies gedrewe mede-politici nie.

Die onweerswolke van ’n EFF- en MK-massa daarbuite is onheilspellend stil. Omdat ons mense al vir etlike eeue op hierdie moederaarde boer en haar seëninge en bedreiginge goed ken, is ons genoop om versigtig optimisties te wees, vir die beste te hoop, maar ook vir die slegste te beplan. Ten spyte van die vorige drie dekades, is ons steeds rentmeesters op hierdie God-gegewe bodem van Suid-Afrika waarvoor ons innig lief is.”

Ook Agri Limpopo het die nuus van sy aanstelling optimisties ontvang.

“Johann Kotzé, die hoof van AgriSA, het na Steenhuisen se aanstelling verwys as die eerste reën van die seisoen en ons kan nou begin plant,” het Deidre Carter, hoof van Agri Limpopo gesê.

“Daar is ’n opgewondenheid dat ons by ’n situasie kan uitkom waar ons ’n oop deur het om met die minister te kommunikeer en ons probleme aangespreek word,” het sy gesê.

Sy het gesê dat hulle wel bekommerd is daaroor dat die departement in twee gedeel is en die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming van die PAC is. Dié party is ’n voorstander van grond-onteiening sonder vergoeding.

“Ons hoop van harte dat die nuwe minister sal aanhou met opposisie-politiek waar daar gefokus word op foute wat gemaak word en nie sal oorslaan na regeringspolitiek waar die foute nie meer raakgesien word nie,” het sy gesê.

Volgers Carter het beide Steenhuisen en die nuwe minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, aangedui dat hulle Agri Limpopo se jaarlikse kongres wat in Augustus by die Weesgerus-vakansieoord buite Modimolle gehou word, sal bywoon.

Related Articles

 
Back to top button