News

Waar ’n rokie trek is daar ’n vuurtjie

Working on Fire (WoF) en die Bela-Bela Fire Protection Association (FPA) gaan op Saterdag, 29 Junie ’n ‘Fire Open Day’ by die Sondela-natuurreservaat aanbied.

Lede van die vereniging, asook nie-lede word uitgenooi om die dag te kom bywoon. Elke plaaseienaar kan tot drie van sy werkers bring om opleiding te ontvang in brandbestryding en voorkoming en ’n bywoningsertifikaat sal aan die einde van die dag aan elke deelnemer oorhandig word.

Een van die wonings wat in 2023 op Mabalingwe in ’n brand verwoes is.

Die geleentheid word gratis aangebied en daar sal ook ’n uitstalling van brandbestrydingstoerusting wees.

Arnauld le Roux, onder-voorsitter van die Bela-Bela FBA, sê dit is hul hoofdoel om bewusmakingsprojekte te loods sodat die inwoners van die dorp en landelike omgewing genoeg kennis kan opdoen oor hoe om te reageer, en die moets en moenies rondom brandbestryding en -voorkoming.

Le Roux, sê so ’n projek kan slegs werk as die hele gemeenskap betrokke raak. Al die hulpmiddels is reeds daar, die area is in sektore ingedeel om koördinasie te verbeter, twee beheerkamers (Ops Room) bestaan, een op Mabalingwe en die ander op Sondela, en daar is ’n goed gekoördineerde radio/kommunikasiestelsel reeds in werking.

“Al die nodige tegnologie is daar, maar dit beteken nie veel as mense dit nie kan benut nie,” sê hy.

Bela-Bela se brandvereniging (FPA) en Working on Fire is nou al nagenoeg tien jaar in ’n vennootskap en saam het hul al groot vure aangepak en suksesvol bestry.

Working on Fire (WoF) het boonop onlangs toestemming gekry om ’n derde brandspan op Bela-Bela te vestig. Dit sal hul jaarlikse subsidie opstoot na R6 miljoen. Die personeel van WoF is professioneel en het goeie opleiding ontvang. Hulle is bereid om hul kennis met die gemeenskap te deel.

Brandbestryding en misdaadvoorkoming loop hand aan hand, en dit is waarom die vereniging nou saamwerk met gemeen-
skapspolisiëring- en buurtwaggroepe. Alhoewel daar in die verlede wel probleme ondervind is met brandstigting, as ’n vorm van misdaad, is die oorgrote meerderheid van ernstige brande, die gevolg van nalatigheid.

Le Roux sê daar is geen wet wat grondeienaars verplig om deel te wees van brandverenigings of groepe nie, maar hy weet, veral na die onlangse brande op Mabalingwe, dat versekeringsmaatskappye nie te gretig is om eise uit te betaal indien die eienaar van ’n perseel, veral met ’n grasdakstruktuur, nie deel is van so ’n vereniging nie.

Hy meen die erns van veldbrande word nie altyd besef totdat dit te laat is nie. Die Bela-Bela FPA beoog om inwoners meer betrokke te kry by voorkoming van brande en brandbestryding. Hulle doelwit is om ’n veilige omgewing vir alle inwoners te skep.

In die verlede het die dorp en omgewing al vernietigende brande beleef, maar steeds vergeet mense hoe ernstig ’n brandgevaar kan wees. “In 2023 het ons die verwoestende brande op

Mabalingwe-natuurreservaat en die plase in hul omgewing gesien. Daar is miljoene rande skade gelei wat ’n reuse impak op ons dorp en omgewing se ekonomie gelaat het.

In 2018 het feitlik die hele Waterfront-kompleks in Bela-Bela tot op die grond afgebrand. Net die jaar van te vore was daar ’n groot brand by SuperSpar in Bela-Bela, wat die winkel soos ons hom geken het, in vlamme verswelg het.

In 2013 het ’n veldbrand wat elders ontstaan het en versprei het na Sondela-natuurreservaat gewoed wat die lewens van twee toeriste geëis het. Dit is maar net enkele van die ernstige brande wat in ons omgewing al groot skade veroorsaak het. Niemand wat in die Bosveld woon is gevrywaar nie en daarom moet inwoners paraat wees,” sê Le Roux.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button