News

Sonskyndorp groet Oom Hennie

’n Oud-inwoner, en vader van dr. Roelof Coertze, Oom Hennie Coertze (84), wat diep spore getrap het in die gemeenskap, is op Sondag, 16 Junie oorlede.

Oom Hennie is gebore op 3 Junie 1940, en in 1994 het hy en sy seun (dr. Coertze) saam ’n plaas in Bela-Bela gekoop, en hierheen verhuis. Sy vrou Marie is vier jaar gelede oorlede, en Oom Hennie het aanvanklik alleen op die plaas gewoon maar het later by sy dogter, Ria Jansen in Pretoria gaan bly.

Martie van Graan, ’n vriendin van die Coertze-familie het in ’n huldeblyk aan Oom Hennie die volgende gesê:

“Oom Hennie het in ’n ander era grootgeword. As jong man het hy op die Spoorweë begin werk en sy week se loon in ponde en sjielings verdien.

Met sy fiets het hy baie myle afgelê om gereeld by tannie Marie te gaan kuier. Sy eerste ordentlike motor was ’n wit Consol, waarop hy baie trots was. Bekend, geëerd en gerespekteer was hy in die gemeenskap waar hy op sy oudag as boer kom aftree het. Dit was ’n voorreg om oom Hennie te ken. Hy het begrip gehad van wat werklik in die lewe belangrik was – ’n bron van stille inspirasie.

’n Man met wysheid wat op sy gevorderde ouderdom nog steeds die boeke laat klop het van ’n aantal dokters praktyke. ’n Egte mens.”

Hy was ’n fantastiese oupa, wat alles moontlik vir sy drie kleinkinders gedoen het. Hy was ’n bekende gesig langs die veld waar die kleinkinders vir Laerskool of Hoërskool Warmbad uitgedraf het. Hy het nie gehuiwer om van Volksrust tot Lichtenburg of die volgende naweek na Vryheid te ry om sy kleinseuns en -dogter te ondersteun nie. ’n Lojale Warrie-ondersteuner by uitstek!

Hy was ook trots op sy gesin se prestasies in liggaamsbou en het hul aangemoedig om nog beter te presteer.

“Lief en trots was hy op sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. ’n Paar weke gelede, soos telkemale vantevore sluit ons die voordeur van sy plaashuis oop. Vlak by die voordeur het hy voor die muur vol foto’s tot stilstand gekom. ‘Ag, my ou mens,’ het hy gesê met sy hand voor sy mond.

Hy vertel hoe trots hy was op Roelof en Ria se gradeplegtighede, terwyl ons kyk na die talle foto’s van goeie tye saam, Hy verwys na ’n koerantuitknipsel en vertel met oorgawe hoe Gert (kleinseun) drie drieë en ’n rooi kaart in dieselfde wedstryd gekry het. Ons het deur die huis gestap. Sy voetval heelwat stadiger as normaalweg. Die voordeur dig agter ons toegetrek.

Die sleutel in die slot gedraai. ’n Draai by die voëlhokke gaan stap. Nooit sou ek kon raai dat dit die laaste maal sou wees nie. Oom Hennie, ses jaar het ek die voorreg gehad om jou te ken en in daardie tyd ’n leeftyd se kennis in jou stories wys geword.

Jy was lief vir die voëltjies. Die plaas. Die Skepping. Om Fredré se woorde te leen, jy was ’n man met silwer in jou hare en goud in jou hart.

Diep in ons hart is jy. Oom Hennie, jy was enig in jou soort, maar ’n man van ‘inborste’ soos oom Oubaas van 7de Laan sou sê.

Veel meer as net ’n pa, oupa, oupa-grootjie en vriend… Jy was ’n man van God. Daarom kan ek met ’n seker hart sê jy is nou in stilte te vind. In die reën, die wind, in elke blom, vonkelende ster en voël se vlug.

Rus saggies oom Hennie, jou voetval sal vir altyd in ons harte weerklink, maar nou gun ons jou die rus en skouer skuur met al die groot geeste wat jou vooruitgegaan het.” sluit van Graan af.
’n Roudiens is vir Oom Hennie op Donderdag, 27 Junie, in Pretoria gehou.

Related Articles

 
Back to top button