News

Honde word geteiken

In ’n hartseer en kommerwekkende voorval is twee honde van Hanlie Boshoff op Sondag, 12 Mei op die Bospoort-hoewes, buite Bela-Bela vergiftig.

Boshoff vertel hoe sy die Sondag omstreeks 14:00 die honde uit die huis laat gaan het om bietjie skoon te maak. Na sy haar werkies klaar gedoen het, het sy die honde geroep om in te kom, gewoonlik wag hul angstig vir die deur om oop te gaan. Sy het weer geroep en toe gesien een van die honde lê net op die gras. Dit was vreemd en sy het gaan ondersoek instel.

Sy het opgemerk dat die hond baie opgebring het, en sy het dadelik ’n handdoek gaan haal om die hond in toe te draai en huis toe te neem.

Sy het die hond op die stoep neergesit en geklitste rou eier gaan haal om vir die hond in te gee. Sy het op die sosiale groepe gesien dat dit ’n goeie teenvoeter vir vergifting is. Toe Boshoff egter opdaag met die geklitste eier was die hond reeds dood. Sy het onmiddellik begin roep na haar ander honde, maar twee van hulle was nêrens te sien nie.

Sy het oral op die erf geloop en na sowat tien minute op die liggaam van ’n tweede hond afgekom. Sy het dadelik die plaaslike sekuriteitsfirma wat by haar diens doen, in kennis gestel, maar kon nie die polisie in die hande kry nie.

Die vergiftiging van honde is van tyd tot tyd ’n probleem in ons lesersgebied, en dit is altyd ‘n kommerwekkende tendens, aangesien die vergiftiging van honde gewoonlik ander misdadige aktiwiteite soos diefstal of inbraak voorafgaan.

Kol. Annemarie Smith van die SAPD op Bela-Bela het gesê dat dit baie moeilik is om raad te gee in so ’n geval, want honde bly honde.

Hulle sal altyd ’n kossie wat rondlê eet. Sy het bygevoeg dat die enigste positiewe raad is, vir honde-eienaars en ander inwoners om maar net baie paraat te wees. “Stel vas hoekom jou honde blaf,” het sy gesê.

Daarby verwag sy nie die publiek moet hulself in gevaar stel deur die huis te verlaat om ondersoek in te stel nie, maar eerder al die buite ligte aan te sit en die honde te roep. Wees bedag op enige vreemde voorwerpe of persone en maak alarm. Skelms hou persele dop en kom gou agter as honde nie aandag kry nie.

Boshoff was baie ontsteld oor die insident en het gesê: “ Dit is ’n laakbare handeling om vir diere gif in te gee. Dit is wreed en onaanvaarbaar om onskuldige diere aan soveel lyding bloot te stel.”

Intussen het Warmbad Diere-kliniek aan Boshoff bevestig dat die diere wel vergiftig is, daar kon egter nie bepaal word watter tipe gif gebruik is nie.

Dié toetse sal by Onderstepoort buite Pretoria geskied. Dit is ’n baie duur proses.

Related Articles

Back to top button