News

Hartseer groet vir oud-polisieman

Dekades lank het hy sy gemeenskap gedien en geregtigheid gesoek vir dié wat die slagoffers van misdaad was.

Manie van der Merwe, wat jarelank verbonde was aan die polisie se kinderbeskermingseenheid en sedert sy aftrede twee jaar gelede, skouer aan die wiel by die Abraham Kriel-kinderhuis gesit het, is die afgelope week hartseer gegroet ná sy afsterwe.

Van der Merwe was getroud met Gerda van der Merwe, die hoof van die kinderhuis in Modimolle. Volgens Gerda het sy en haar man in Desember pas teruggekom van die see af, saam met ’n groep kinders van die tehuis, toe dokters bevind het dat hy ’n beroerte gehad het. Hy het egter nie verbeter nie en is later gediagnoseer met glioblastoma, ’n aggressiewe tipe breingewas.

“Daar was min vooruitsig vir herstel. As gesin het ons besluit om nie die operasie-roete te volg nie, omdat dit groot risiko ingehou het. Ons het eerder op medisyne staatgemaak,” het sy gesê.

“My hart huil, maar ek is so dankbaar vir die tyd wat ons nog saam gegun is. Ek kon hom nog onlangs vat om te gaan kamp en op 25 Mei het hy nog ’n funksie by die kinderhuis bygewoon – dit was soos ’n afskeid,” het sy hartseer gesê. “Ons gaan hom geweldig baie mis.”

Van der Merwe was lank verbonde aan die polisie in Villieria, Pretoria. ’n Vriend, Jacques Botes, skryf dat hy ’n polisieman in murg en been was. “Die hele Villieria-gemeenskap het hom geken aangesien die polisie in Manie se beginjare nog te voet patrollies geloop het. ’n Tannie sou hom vra om te kom help met haar yskas wat nie reg werk nie en Manie se antwoord was altyd ‘ja’.

Hy het nooit nee gesê wanneer hy sy gemeenskap kon dien nie.” Van der Merwe was later ondersoekbeampte by die Villieria-polisie en het ook in die destydse Koevoet-eenheid in Suid-Wes (Namibië) gedien. Hy was die koördineerder vir die polisie se gyselaar-onderhandelingspan in Tshwane. “Manie was ’n uitstekende onderhandelaar,” het Botes gesê.

Hy was ook betrokke by die stigting van die Mon Ami – Trauma Troops en het in sy privaat tyd opleiding gedoen nadat slagofferbystand ná 1994 beleid geword het.

Gerda, ’n maatskaplike werker, is in Junie 2014 as die hoof van die Abraham Kriel-kinderhuis aangestel en Van der Merwe het agt maande later gevolg nadat hy ’n oorplasing na die kinderbeskermingseenheid in die dorp gekry het.

“Hy was baie trots op ’n aanprysing wat hy ontvang het vir lewenslange vonnisse wat hy vir verkragters gekry het. Hy was ook betrokke by die ondersoek na die ontvoering van ’n jong meisie in die dorp.”

’n Troosdiens is op Dinsdag 25 Junie by die kinderhuis vir hom gehou. Nog ’n troosdiens vind op Saterdag 29 Junie om 11:00 by Doxa Deo-gemeente in Kameeldrift, buite Pretoria plaas.

Hy laat sy vrou Gerda, sy kinders Marina en Dewald, asook vier kleinkinders, sy ma, ’n broer en suster agter.

Related Articles

Back to top button