News

Ou gebou kry ’n welkome nuwe baadjie

Opknappingswerk het onlangs begin aan die statige ou Ons Toekoms-gebou in Thabo Mbekiweg in Modimolle. Die gebou is amper ’n 100 jaar oud.

Dié gebou is in die laat 1920’s opgerig deur die drie susterskerke in die dorp, nadat daar ’n behoefte aan skoolkoshuise ontstaan het vir kinders wat op plase gewoon het.

Daar is twee geboue opgerig wat baie dieselfde gelyk het met hul kenmerkende wit gewels: Ons Toekoms vir seuns en Ons Hoop vir meisies wat in Kerkstraat staan en tans die Waterberg-dienssentrum en talle afgetredenes huisves. Die departement van onderwys het die kerke se koshuise in 1937 oorgeneem.

Volgens Tendani Munyai van die provinsiale departement van openbare werke, word die gebou se dak vervang omdat dit lek. Van die stutmure en vloere is ook nie meer stewig nie en moet vervang word.

“Ons wil die gebou bewaar, maar moet dit herstel sodat dit weer bruikbaar is. Ons wil die argitektoniese ontwerp van die gebou behou omdat dit deel is van ons geskiedenis as land,” het Munyai gesê.

Die departement se distrikskantore het vanuit dié gebou gefunksioneer. Die gebou het met die jare saam al hoe meer vervalle geraak en verwaarlosing is duidelik te bespeur.

Die twee geboue is destyds teen ’n bedrag van R28 000 gebou – ’n fortuin in daardie jare. Dit het, volgens die boek “Nylstroom 1866 – 1966” onderwys in die dorp ’n groot hupstoot gegee.

Al die leerders het aanvanklike in dieselfde gebou klas gehad en in 1940 het ’n afsonderlike hoërskool tot stand gekom. Bouwerk aan die hoërskool het in 1965 begin maar die kinders het eers steeds koshuise met die laerskoolkinders gedeel voordat hulle na die hoërskool se President Kruger-meisieskoshuis en die J.G Strijdomkoshuis vir seuns geskuif het.

Volgens Munyai sal die bouwerk aan die Ons Toekoms-gebou teen April 2026 voltooi wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button