News

Modimolle dalk wendorp van jaar?

Sondag is die groot dag… en sal inwoners van Modimolle weet of hul dorp een van die finaliste in KykNet se program, Kwêla, se Dorp van die Jaar-kompetisie, is.

Die dorp was een van die streeksfinaliste en ’n kort insetsel wat kykers regoor die land ’n voorsmakie van die dorp gee, is op Sondagaand 21 April uitgesaai, waarna kykers vir hul gunstelinge gestem het.

Vir inwoners wat graag hul dorpe wil verbeter en netjies maak, is die kompetisie se allemintige R1 miljoen prysgeld van Lottoland ’n groot lokaas. Die wendorp kry ook R1 miljoen se bemarkingswaarde van KykNet met ’n 45 sekonde advertensie wat oor die dorp handel. Daar sal ’n groot opskop op die dorp gehou word wat deur die filmspan van Kwêla opgeneem word.

Sakeondernemings in die omgewing wat op die toerismebedryf staatmaak, sal baie dankbaar wees vir dié groot bemarkingsveldtog wat dié omgewing sal bevoordeel.

Die ander finaliste in Limpopo is Hoedspruit en Marken. Verlede jaar was Delmas die algehele wenner met Rooiberg wat ook een van die finaliste was.

Om te sien of Modimolle die paal gehaal het, kan kykers Sondag 23 Junie om 19:00 inskakel op KykNET, DSTV-kanaal 144.

Die groot finale tussen die nege finalis dorpe vind van 14 tot 18 Julie plaas.

Related Articles

 
Back to top button