News

Karkasse by hoewe se hek gevind

’n Inwoner van die omgewing, Nic Louw, het op Donderdag, 23 Mei, op ’n ontstellende vonds by sy hek op die Roodepoort-hoewes, afgekom.

Naby die ingang van sy plot het hy die karkasse van drie swart rooibokooie gevind wat in die gras versteek was. Volgens Louw was twee van die ooie se kele afgesny en die ander een het ’n wond in die oog gehad. Hy het onmiddellik vir Jacques Fleuriot van Roodepoort-buurtwag in kennis gestel.

Louw sê dat hy geen ander beserings of wonde aan die rooibokke kon sien nie, wat vir hom baie verdag is, die karkasse was nog ‘warm’ toe hy hulle teen 08:30 ontdek het.

Fleuriot het by navraag gesê dat hy die rooibokke ondersoek het, en dit wil voorkom of elkeen in die kop geskiet is. Om die kele af te sny is maar standaard praktyk vir ’n jagter sê hy. Dit is om die dier te laat uitbloei en verseker dat die vleis nie taai word nie.

Volgens Fleuriot vermoed hy dat hierdie drie swart rooibokooie moontlik onwettig gejag is gedurende die vroeë oggendure van 23 Mei. Die oortreders is moontlik gepla, en het besluit om die drie karkasse langs die pad te los sodat hulle nie in besit daarvan betrap moet word nie. Hy vermoed ook dat die betrokke bokke moontlik van Mbizi-natuurreservaat afkomstig kan wees, aangesien dit die naaste plaas is waar swart rooibokke aangehou word.

Swart rooibokke, is nie ’n spesie op sy eie nie, maar ’n kleur fase van die suidelike rooibok, wat deur selektiewe teling bepaal word. Swart rooibokke is baie gesog onder jagters en telers en ’n swart rooibokooi kan vir ongeveer R3000 stuk aangekoop word. ’n Ram van die spesie se intree prys is sowat R7000.

Related Articles

 
Back to top button