News

Hiëna in sy nuwe tuiste verwelkom

Vanaf die Vrystaat, na Phalaborwa, terug na die Vrystaat, en uiteindelik aftrede op Bela-Bela in die Waterberg...

Vir baie mense kan so ’n lewensreis dalk nie noemenswaardig klink nie, maar as jy ’n hiëna is, met jou eie Instagram-rekening, dan dui dit op ’n vol, en opwindende lewe. Ven (dit beteken ‘kom nader’ in Spaans), is ’n agt jaar oue gevlekte hiëna wat nou die Cheetah Experience-wildsentrum buite Bela-Bela, sy tuiste noem.

Hardus Breytenbach groet vir Ven, die gevlekte hiëna.

Ven was slegs 8 dae oud, toe Hardus Breytenbach hom by ’n vriend gekry het na ’n besoek aan die Vrystaat. Breytenback het vir Ven ingeneem, en groot gemaak in Phalaborwa waar hy woon, met die doel om hom te gebruik vir opvoedkundige bewusmakingsprojekte met kinders. Hul sou geleentheid hê om vir Ven van nader te kon leer ken.

Hy was gou so gewild dat hulle vir hom sy eie Instagram-rekening geopen het, Ven The Hyena, en hy het alreeds meer as 1500 volgelinge op die sosiale media platform.

In’n stadium het Breytenbach oorsee gaan werk, en moes hy plan maak om Ven se versorging te waarborg totdat hy uit die buiteland terugkeer. Ven het weer die uittog na die Vrystaat onderneem en het tydelik by sy oorspronklike eienaar gebly.

Breytenbach se situasie het egter sodanig verander met sy terugkoms dat hy nie meer vir Ven kon huisves nie. Hy het navorsing gedoen en besluit dat Riana van Niewenhuizen van Cheetah Experience se wetenskaplike werkswyse met die versorging van roofdiere in aanhouding, van onskatbare waarde is en sy is bekend vir haar hart wanneer dit by diere kom. Hy het haar genader om vir Ven ’n permanente tuiste te bied.

Riana het ingestem, maar gesê dat haar begroting nie toelaat om nuwe kampe en hokke vir nog meer diere aan te bou nie. Breytenbach het uit sy eie sak vir Ven ’n hok gebou waarin hy aangehou sal word totdat hy na ’n bestaande groter kamp verskuif kan word.

Op Vrydag, 17 Mei, was die span van Die Pos in die bevoorregte posisie om te sien hoe Ven by die Cheetah Experience-wildsentrum in sy kamp losgelaat word.

Nou het Ven sy eie aftree-tuiste in die Waterberg gevind. Hy kan weens sy grootword jare en sy interaksie met mense, nie weer in die natuur vrygelaat word nie, maar is in goeie geselskap en sal sy permanente woning deel met die ander roofdiere wat hier versorg word.

Die oudste hiëna wat nog ooit in aanhouding aangeteken was, is Mars, wat vir 28 jaar in die Honolulu-dieretuin in Hawaii, VSA aangehou was. Mars is in 2017 oorlede, en as hy as maatstaf gebruik word, het Ven nog ’n goeie 20 jaar oor om die Waterberg sy tuiste te noem.

Related Articles

 
Back to top button